Natuurliefhebbers woeker met bestuiwing

Met duisende klein zoemende werkers, en nog duisende aan die kom, proe ’n afgetrede byeboer en ’n natuurliefhebber binnekort die soet sukses van hulle harde werk.Monique Bassonhet meer oor dié projek, wat die plaaslike bybevolking se vlerke sal verst


DUISENDE swart en geel gestreepte ‘werkers’ woeker daagliks van vroeg tot laat om hul eie spens sel-vir-sel te vul – én om die omgewing ’n noodsaaklike hupstoot te gee.

Die gepaardgaande soete verleiding en werkskepping is ’n bonus.

Al is dit by tye ’n taai besigheid.

Die inpirasie? Die gezoem van die bye.

Of eerder, die gebrek daaraan. Maar ’n na-tuurliefhebber – en entrepreneur by uitnemendheid – maak ’n plan. Óf twee . . . óf drie. Veral met die hulp van ’n kundige wat vir twaalf jaar suksesvol kommersieel met bye geboer het.

In die Gamtoosvallei net buite Hankey het afgetrede byeboer, Piet Bezuidenhout, en sakeman-natuurliefhebber, Wernich Cronje, kragte saamgesnoer om ’n unieke kommer- siële byeboerdery by Pabala Privaat Natuurreservaat van stapel te stuur.

Dit is egter nie net vir bye ‘vang’ en heuning uithaal nie. Dié projek bestaan uit verskillende fasette: die plasing van byekorwe op die reservaat, die verkoop en verhuur van korwe, ’n botteleringsaanleg, heuning-proe, inligtingsessies en die bevordering van byeboerdery as stokperdjie – laasgenoemde die be- langrikste vir die tweemanskap.

Hoekom juis so ’n ‘stekerige’ besigheid?

Want, ja, al is jy hoe versigtig, van ’n steek of twee kan jy verseker wees.

Daarom is die korrekte beskerming noodsaaklik.

Só ry die byeboere, of vlieg hulle . . .

Cronje beduie geesdriftig met sy hande: “Om heuningbye van uitwissing te red – veral na honderde bykolonies tydens die verwoestende brande van Junie 2017 uitgewis is – en sodoende plaaslike voedselproduksie te bevorder.

“En bewaring, veral bewaring. Ons wil ’n onblusblare liefde vir bewaring, ook van bye, by die algemene publiek kweek.”

Cronje en Bezuidenhout spog reeds met honderde mensgemaakte byekorwe in die veld – slegs maande na die eerste korf in November verlede jaar opgerig is – en hoop om teen einde 2021 dié getal te verdubbel.

Hulle verduidelik: “Ons maak van ’n baie natuurlike vangproses – vyf-ster vangkaste in die natuur – gebruik.

“Wanneer ’n swerm te groot raak, skei ’n sekere aantal bye af om ’n nuwe kolonie te vorm. Dit is dán wat hulle hul intrek by ons spogge-rige kaste neem.

“Sodra daar 10 000 bye in die vangkas is, word hulle na ’n permanente korf in die veld oorgeplaas. Dié swerm kan binne maande tot 50 000 zoemende inwonertjies groei, indien die spasie en omgewing reg is.”

Vier korwe van 10 000 bye elk word op een palet in ’n natuurlike omgewing geplaas – daar is veiligheid in getalle.

“As ’n ratel wel daarin slaag om van die heuning te kry, verdien hy dit,” lag Cronje.

Hoewel heuningproduksie die hooffokus is, is die oprigting van ’n botteleringsaanleg volgende op hulle doen-lys. Dié sal in Maart vanjaar voltooi wees. Net betyds vir die eerste groot heuningoes.

Beginnerbyeboere en stokperdjie-beoefenaars kan van dié aanleg gebruik maak om hul eie heuning te bottel – kompleet met hulle eie plakker vir individuele spogregte. Die koste? Slegs ’n persentasie van die heuningopbrengs.

Die doelwit?

Cronje glimlag breed: “Om inwoners aan te moedig om aktief tot die byebedryf toe te tree. Klein- of grootskaal.”

Veld, bye en heuning

Die soet stop egter nie hier nie.

Dié tweemanskap bied binnekort heuning-proe en inligtingsessies by die reservaat aan.

Bezuidenhout vertel: “Geklee in handskoene, stewels, ’n wit oorpak en gesluierde wye-randhoed kan belangstellendes saam met ’n byeboer veld toe gaan – daar is reeds opgeleide byeboere in die omgewing wat met die projek gaan help. Hier kan hulle sien hoe heuning uit die korf verwyder word.

“Terug by die aanleg word die vars heuning uit die korf verwyder, gesif en gebottel. Elke besoeker neem ’n bottel heuning huis toe.”

Dan is daar ook heuning-proe – enig in sy soort.

Sy gesig straal van trots: “Heuningliefhebbers ontvang elk proe-botteltjies met 40g verskillende soorte heuning in – dit is baie soos wyn-proe, maar minder ingewikkeld.

“Elke tipe heuning bevat ’n unieke geur: aalwyn, sitrus en fynbos. Asook aarbei vir die meer eksotiese smaak.

“Die heuning kan ook met rissies verryk word, maar ek is nie lief daarvoor om die smaak van heuning te manipuleer nie.”

Besoekers neem hul botteltjies heuning huis toe, en ontvang ’n inligtingsbrosjure wat ’n opsomming van die dag se gebeure insluit.

Vorentoe

Cronje en Bezuidenhout beplan om in die nabye toekoms plaaslike boere van byekorwe vir bestuiwingsdoeleindes te voorsien.

Die vervaardiging van byewasprodukte – insluitende velsorgprodukte, seep, rome en mediese produkte – is verder in hul visier. Maar eers oor ’n paar jaar.

Afgesien van die byeboerdery, lewer hulle binnekort ’n diens aan skoolgroepe, verenig-ings en besoekers met inligting oor byeboerdery. Hulle hoop om sodoende die publiek bewus te maak van die waarde wat bye vir mense het.

Meer inligting

Pabala Privaat Natuurreservaat is geleë op die R330 tussen Loerie en Hankey. Vir inligting, skakel Cronje by 082 508 7762, of stuur ’n e-pos na info@pabalagamefarm.co.za.

Besoek www.pabalaprivatenaturereserve.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.