Neefs bly wakker vir uitslae

TOE Raylin en Lathym Bosman Donderoggend 01:30 Die Burger koop, het die senuwees behoorlik geknaag.


TOE Raylin en Lathym Bosman Donderoggend 01:30 Die Burger koop, het die senuwees behoorlik geknaag.

Die twee neefs (18) het gou uitgevind hulle het matriek geslaag.

Lathym is ’n voormalige leerling aan die Humansdorp Sekondêre Skool en Raylin het aan die Hoërskool Nico Malan skoolgegaan.

Lathym sê hulle het besluit om Woensdag-nag wakker te bly sodat hulle die koerant Donderdagoggend vroeg kon gaan koop. Die twee het hulle sommer in die winkel neergeplak en deur die koerant geblaai.

“Ek het heel eerste my skool gesoek. Raylin moes maar wag totdat ek Nico Malan se uitslae opgespoor het.

“My hart het vinnig begin klop toe ek deur al die eksamennommers na myne soek. Ek kan nou nog nie die gevoel beskryf toe ek my nommer daar sien nie. Ek was verskriklik bly, want ek het alles ingesit vir die eksamen.”

Raylin sê hy was net so verlig toe hy sien hy het geslaag.

Die neefs het in die eksamen so hard studeer dat hulle g’n kontak met mekaar gehad het nie, al woon hulle in dieselfde straat.

Lathym beplan om onderwys te gaan studeer en Raylin het die regte gekies.

You need to be Logged In to leave a comment.