Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp is oorgehaal om te vergoed vir verlede jaar se twee nederlae wanneer hy einde van die maand die tweede keer aan die Wildeklawer-toernooi in Kimberley deelneem.
Volgens die rugby-organiseerder, Johan Jonker, bied dit weereens ’n massiewe uitdaging aan die skool wat oor baie jare diep spore in OP-skolerugby getrap het.
Nico Malan kom op 30 April om 14:00 op die A-veld teen Glenwood van Durban te staan.
Op die afsluitingsdag, 3 Mei, speel die Humansdorpse span teen Barbarian North, ’n besoekende span van oorsee.
Dié kragmeting word om 16:10 op die B-veld beslis.
Nico Malan het albei wedstryde verlede jaar verloor, maar is oorgehaal om dié sakie vanjaar reg te stel.
“Die spelers is uiteraard baie opgewonde en slaggereed vir die stryd,” sê Jonker.
Hy sê dit sal ook die eerste keer wees dat Nico Malan se junior spanne Wildeklawer toe gaan. Dis die o.14-, o.15- en o.16-span.
Ook vir hierdie jonges kan die ervaring wat hulle in Kimberley sal opdoen, goud werd wees vir hul loopbane vorentoe.
Sowat 85 spelers (junior en senior) sal Nico Malan daar verteenwoordig.
Gevra hoe hulle voel om op die eerste dag teen die sterk span van Glenwood te speel, sê Scott: “Dis ’n wedstryd waarna ons baie uitsien. Ons het verlede jaar tydens Paasnaweek met Glenwood by die Kearsney-toernooi afgereken toe ons met 19-12 gewen het.”
In dié wedstryd het Nico Malan met inklimspel by die losgemale en dryfbewegings die grondslag vir die oorwinning gelê en sal hoop dat hulle sterk pak voorspelers in dié afdeling van die spel wéér met ’n oorwinning van die veld kan stap.
Die voormalige Griekwa-slot, Jaco Nepgen, is die eerste span se afrigter.
Intussen het Dawid Vermaak ook die eerste Nico-Malan-speler geword wat in die o.19 Khaya Majola-krieketspan ingesluit is, terwyl 11 tennisspelers die afgelope naweek as deel van die OP Elephantspan aan die Synergy Cup in Bloemfontein deelgeneem het.
Die meisiespan was Zelné Millard, Chloë Timmer, Nadia Dreyer, Mia Botha, Naruschka Conradie en Lianca Rose, met die seunspan Simon Hoek, Reghardt Conradie, Josh Timmer, JM Pieterse en Elandre van Loggerenberg.