NKOSIVUMILE Daba (26) lê al vir nagenoeg sewe jaar die snoeiskêr in – en dié waardevolle ervaring het aan hom die wentitel in ’n snoeikompetisie verseker.
Daba, ’n landbouwerker van die plaas, Lushof Boerdery in Patensie, is as die algehele wenner in Felco se eerste sitrus-boordsnoeikompetisie aangewys. Hy het pryse ter waarde van meer as R4 00 losgesnoei.
Felco vorm deel van Nexus Patensie wat in kunsmis, volhoubare boerdery en ’n wye verskeidenheid produkte en dienste wat op die landboubedryf gerig is, spesialiseer.
Daba, wat sedert 2012 bome snoei, het nie vir een oomblik gedink dat hy as baassnoeier gaan wegstap nie. Op die meeding-dag het hy elf bome kafgedraf.
Sy wen-snoeiresep?
“Die Here het my met ’n goeie teg-niek geseën,” lag hy. “Dit is baie lekker werk, want ek geniet dit om buite in die boorde op die plaas te wees.”
Meer oor sy tegniek wil hy nie verklap nie.
Jimson Parire (tweede plek) van die plaas, Gonjah Boerdery, en Joseca Motsapi (derde plek) van die plaas, Malan Boerdery, is as die naaswenners aangewys, terwyl Robert Blake (Manderein Boerdery) en Riaan Venter (Rooikrans Agri) die prys vir die beste Beste onderhoud van Felco tronics. deel.
Altesaam 33 landbouwerkers van verskillende plase in die gebied, het mekaar die stryd in die boord van die plaas, Paksaam in Patensie, op Donderdag, 26 September aangesê.
Deelnemers het 60 minute gekry om 20 lemoenbome volgens streng kriteria te snoei: 0.8m van die grond af, Kersboom-vorm, en droë spruite en oorhangende takke moet verwyder word.
Louis Liebenberg van Felco, wat sedert 2010 snoeikompetisies in die wynbedryf aanbied, sê die snoeistandaarde was baie hoog.
“Die deelnemers is merendeels op korrekte snoeitegniek beoordeel, en nie hoe vinnig hulle gesnoei het nie – hoewel dit ook belangrik is.”
Van die aspekte waarna daar met die beoordeling gekyk is, sluit in: ligonderskepping, boom vorm en groei, verwydering van ongewenste groei en lootvernuwing.
Volgens Liebenberg is die hoodoel van die kompetisie om erkenning aan plaaswerkers te gee wat ’n moeilike, maar belangrike en noodsaaklike taak op plase verrig. “As ’n boom nie reg gesnoei word nie, kan dit die lewensverwagting van die boom, die gehalte en opbrengs van die oes beïnvloed.
“Ons het met die wingersnoeikompetisie gesien dat die standaard van snoei jaarliks verbeter namate die snoeiers meeding om as wenner uit die stryd te tree. Dit help die bedryf geweldig baie, en het ’n positiewe ekonomiese impak.
“Nexus, in samewerking met Felco, beoog dus om dié sitrusboord-snoeikompetisie jaarliks aan te bied om die belangrike vaardighede wat snoeiwerk vereis, ten toon te stel.”