KULTUUR . . . taal . . . gemeenskap . . . liefdadigheid . . .
Die ATKV het onlangs ’n splinternuwe jeugtak by die Jeffreys Bay Comprehensive High School geopen – die ATKV-jeugtak Staan Rotsvas.
“Ons is baie opgewonde om die geleentheid met albei hande aan te gryp en om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” sê Sharifa Louw, leier van die plaaslike jeugtak.
“Ek voel jongmense moet ’n platform gegee word waar hulle meer oor hul kultuur kan leer en dit uitbou, en hulself kan uitleef in hul eie taal en kultuur,” sê Louw. “En om ’n verskil in die gemeenskap te maak.”
Louw het verskeie doelwitte vir die nuwe jeugtak gestel, en sy glo dat hulle dit sal bereik.
Die projekte waarby hulle betrokke is, wissel van om na die daaglikse, basiese behoeftes van die gemeenskap om te sien, tot om mense so af en toe te trakteer – insluitende ’n sopkombuis, betrokkenheid by plaaslike organisasies vir kinders en vullisdromme vir die skool.
Louw sê: “Ons nommer een prioriteit huidiglik is fondsinsamelingsprojekte, onder meer ’n talentkompetisie by die skool.
“Sonder fondse kan ons nie ’n verskil maak nie.”

