SY is lief vir kinders, passievol oor die onderwys en doelgerig in haar benadering.
Met dié eienskappe wil die nuwe skoolhoof van die JBay Academy Primêre Skool help om hulle volle vermoë te bereik.
Patricia Bekker (62) het op 1 Januarie vanjaar die leisels as skoolhoof by Renette Matthee, medestigter van die skool, oorgeneem.
Bekker se passie vir die onderwys lê diep in haar hart.
Toe sy vir die eerste keer voor haar eie klas staan, het sy geweet sy kon nie ’n beter beroep gekies het nie – dit is waar sy moet wees.
“Ek was nog jonk, maar ek het geweet daar is ’n groter doel vir my in die onderwys en dat dit my kans is om ’n verskil in kinders se lewens te maak,” sê sy.
Bekker het in 1979 haar eerste tree as onderwyser by die Hoërskool Douglas in die Noord-Kaap gegee, waarna sy vir twaalf jaar haar drie seuns grootgemaak het.
In 2016 sluit sy by die JBay Academy Hoërskool aan.
“Dit voel asof alles wat ek die laaste vier dekades gedoen het, my voorberei het om vandag hier as skoolhoof te staan,” sê Bekker.
“Ek weet dit is nie ’n maklike taak nie, maar ek het die steun van wonderlike personeellede en staatmaker-ouers.”
Sy het ’n groot visie vir die skool. “Dit is my droom om die skool verder uit te bou en om die JBay Academy Primêre Skool die beste laerskool in Jeffreysbaai te maak – ’n skool waarop almal trots kan wees.”
Haar droom?
“Dat elke leerder sy volle potensiaal bereik,” sê sy.