Nuwe hoof wil voortbou, innoveer

MEER as twee dekades gelede het sy as ’n ‘groentjie’ vir haar eerste skooldag aangemeld.


MEER as twee dekades gelede het sy as ’n ‘groentjie’ vir haar eerste skooldag aangemeld.

Nou, 24 jaar later, is sy die trotse skoolhoof van dieselfde skool in die hartjie van Humansdorp.

Valerie Lippert (48), wat vars uit die onderwyskollege in Wes-Kaapland, haar eerste tree as Wiskunde- en Engels Eerste Addisionele Taal-onderwyseres by die St. Patricks Primêre Skool gegee het, het in April, vanjaar die leisels as skoolhoof oorgeneem – die eerste vroulike hoof by die skool.

Dít na sy in 2013 tot departementshoof bevorder is en sedert Junie 2018 as skoolhoof waarneem – vir ’n tweede keer.

Benewens die uitdagende werk as skoolhoof, bied sy tans Ekonomiese Bestuurswetenskap en Natuurwetenskap aan.

Lippert se passie vir die onderwys lê diep in haar hart en sy weet sy kon nie ’n beter beroep gekies het nie.

Al spog sy met ’n BCom-graad.

Lippert, wat daarin glo om slegs besluite te neem waarby die skool as ’n geheel sal baat, het beslis idees wat sy in die skool wil toepas om dit na nog hoër hoogtes te neem.

“My visie is om al die nodige fasiliteite daar te stel wat die leerders sal bemagtig om in geheel te ontwikkel, asook om ’n aangename omgewing vir onderwysers te skep waar hulle hul passie kan uitleef,” sê sy.

“Dit sluit in die bou van meer klaskamers en sportvelde – die skool het tans geen sportgeriewe. Ons bou tans ons eerste veeldoelige netbalbaan by die skool met die hulp van borge.

“Ons benodig verder remediërende onderig vir leerders wat in die hoofstroom sukkel.

“Vir my is dit belangrik om innoverend en diensbaar vir die skool met sy 742 leerders vanaf Graad 1 tot 7 te wees,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.