DIE Kouga-munisipaliteit bekyk nuwe maniere om die agterstand met die teer van paaie in dié streek in te haal.

Dit die munisipaliteit meer as R500 miljoen kos om sy padnetwerk weer op ’n aanvaarbare vlak te kry.

Benewens dié bedrag, gaan die rehabilitasie van paaie die munisipaliteit R380 miljoen uit die sak jaag, periodieke padinstandhouding R114 miljoen en spesiale instandhouding R44 miljoen.

Kouga burgemeester Horatio Hendricks sê hulle dink nou “buite die boks”.

Hendricks het Maandag met ’n maatskappy vergader wat ’n alternatiewe manier gevind het om asfalt te maak en die fossielbrandstowwe wat verminder gebruik word om teer te vervaardig.

Hendricks wou nog nie sê watter maatskappy se idee hy op die proef gaan stel nie, maar sê die teermengsel word deur afvalstowwe of plastiek vervang.

Die maatskappy maak plastiekpalette wat gebruik word om die asfalt te vervang. Dit is goedkoper en omgewingsvriendeliker.

Die maatskappy gaan op dié nuwe manier 1 km van ’n pad in Jeffreysbaai ‘teer’.

Padwerkers het in die eerste sewe maande van die boekjaar altesaam 3 131 slaggate in Kouga herstel.

Hendricks meen die feit dat slaggate vin-niger reggemaak word, kan toegeskryf word aan die nuwe program vir padwerke wat in September 2018 begin is.

As deel van die program werk agt spanne daagliks. Hulle arbei van straat tot straat om slaggate reg te maak.

Meer as 100 slaggate word soms in net een straat reggemaak, sê Hendricks.

’n Kontrakteur is in November aangestel om paaie te verseël. Talle paaie in Jeffreysbaai en Hankey is reeds verseël.

Hendricks erken die toestand van grondpaaie is steeds sleg ondanks ’n deurlopende program om paaie te herstel.

Geld is in die munisipaliteit se aansuiweringsbegroting beskikbaar gestel vir die teer van grondpaaie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article