EG-plaaslike kontreimark met keurige gebak, kraakvars produkte en geskenke vir die Kerskous . . .
Die Oesterbaai-inwonersvereniging, in samewerking met Die Windmeul en NSRI Oes-terbaai, hou vanaf 10:00 tot 17:00 op Maandag, 23 Desember hul jaarlikse kontreimark by die Oesterbaai-gemeenskapsaal.
Met nagenoeg 40 stalletjies, kan markgangers uitsien na vars produkte: aarbeie, spanspek en waatlemoen uit die Gamtoosvallei. Daar is ook proteas uit Tsitsikamma, vis, First Choice suiwelprodukte en plaaslike Angus-beesvleis van Sebastians Slaghuis – alles teen spesiale kontreimarkpryse.
Verder kan biltong, droëwors, vleispasteie, vrugtekoeke, beskuit en koekies opgeraap word, terwyl Mastertons-koffie se Oesterbaai-mengsel ten bate van die inwonersvereniging se diereprojek te koop sal wees.
Heerlike skaapstertjies oor die kole gebraai, sal te koop wees. Laatkommers kan aan sosaties, boerewors- en steakrolle, jaffels, vetkoeke, slapskyfies en hoenderstukkies smul.
’n Biertent sal sitplek bied vir dié met moeë voete en droë kele.
Die hele gesin kan hulle Kerskouse met allerlei handgemaakte hout-, leer- en keramiekprodukte vul, asook juwele, skilderye, speelgoed en hengelgerei.
Vir meer inligting, skakel Oesterbaai- inwonersvereniging se ondervoorsitter Fanie Groenewald by 082 850 3972 of stuur ’n epos na groenewaldsp@gmail.com.