Twee vroue met verskillende haarkleuren sit langs mekaar.
Prent vir illustrasiedoeleindes. Credit: AI Generated

Daar word dikwels gesê wysheid kom met die grysheid.

Maar aai, ek is ook een van die vrouens wat met my hande in my gryswordende hare sit met die groot besluit: moet ek aanhou kleur, of moet ek vrede maak met die grys hare.

Ek het al talle spertye vir myself vasgestel van wanneer ek die ses-weeklikse gekleur gaan staak.

Dit sou eers wees as ek ouma word, toe as ek vyftig word.

Nee, liewer op sestig. Nou is ek al lankal daar verby en kan dit nog nie oor my hart kry om grys te gaan nie.

‘n Voormalige kollega, Neil Bisseker, het my altyd ‘Volkleur Fourie’ genoem.

Ek hou van kleur. Om aan te trek, in my huis, en in my hare.

Ligstrepies in my bruin hare laat my goed voel. Maar dan sien ek vroue wat te pragtig lyk met netjiese grys kapsels.

Dan besef ek opnuut dat grysheid nie veel met ouderdom te doen het nie, maar dat dit eerder ingesteldheid is.

Op die internet sien ek boererate om die natuurlike kleur hare weer te laat uitgroei met die hulp van suurlemoensap en klapperolie.

‘n Ander een sweer weer by rou aartappelskille wat op die kopvel vasgebind moet word.

Oeeee nee!

Dan eerder my brood-en melkgeld vir die foeliestroke op my kop vir ‘n kleurvolle haardos!

‘n Natuurlike-gesondheidskundige, dr. Chris de Beer, het op ‘n keer tydens ‘n praatjie op Jeffreysbaai gesê chemiekalië wat ons liggame binnedring is die grootste oorsake van kanker.

Hy het veral met vroue geraas oor al die skoonheidsmiddels en verál haarprodukte wat volgens hom groot sondaars is.

En as die hare nou uiteindelik grys is, is daar glo allerhande dinge wat weer gedoen moet word om te keer dat dit geel en leweloos lyk.

Dis pers sjampoe en wat nie als nie.

Die natuur moet maar steeds ‘n bietjie aangehelp word.

In elk geval, dis tog te lekker om bietjie in die haarsalon gepamperlang te word.

‘n Kopmasering, opgeknapte hare, ‘n nuwe styl en dan nog aangename geselsies is een van die vreugdes van die lewe.

Met my laaste besoek aan die salon, het ek sommer ‘n nuwe vriendin gemaak.

Kitty was die dag avontuurlustig en het gevra vir verskillende kleure strepies in die grys hare.

Ons het met foelie op die kop en ‘n koffie tog te lekker gesels, lawwe fotos van ‘voor’ en ‘na’ geneem en nommers uitgeruil.

Want hiér, in die salon, waar mens met die kundigheid van die haarkapster oor jou grys hare moet besluit, is ‘n baie spesiale plek.

Dan kan die mening van ‘n mede-gryskopwroeger jou makliker ‘n groot besluit laat neem.

Ek was so bly toe ‘n jarelange vriendin, mooie Isabel, net soos ek, ook kom hare kleur het by dieselfde salon. Om te grys of nie – dit bly ‘n kwessie!

Net toe ek weer besluit het: “Kleur my in!”, kom sit ‘n pragtige, vriendelike en statige vrou in die stoel langs my. Sy kom elke week om haar pragtige wit-grys hare te laat versorg.

Dis modieus gekap en komplementeer haar gelaat.

Nou heroorweeg ek alweer… Sy luister stemmig na my en Kitty se redenasies, en sê met wysheid: “Grys hare pyn nie, hoor!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article