ONDERGRONDSE water wat by die Sevos Sentrum in Jeffreysbaai insypel en die gebou ernstig beskadig, vererger by die dag.

Die water syfer deur plaveisel, mure en vloere en lei tot groot strukturele skade.

Die wortel van die kwaad: ’n Verstopte, 400mm stormwaterpyp.

Dié pyp, wat ’n waterstroom vanuit Oribistraat onderdeur die Sevos Sentrum en Da Gamaweg na die strand-pypleiding voer, is sedert 2018 verstop nadat ’n dam hoër op in Noorsekloofstraat gebreek het.

’n Eiendomsportefeuljebestuurder kla sedert Julie, verlede jaar by die Kouga-munisipaliteit, en oorweeg nou om stappe teen die munisipaliteit te doen indien die pro-bleem nie in die nabye toekoms daadwerklik aangepak word nie.

Die bestuurder, wat anoniem wil bly, sê honderde liter water loop van Noorsekloof onder die teerpad na die gebou. “Verskeie strukturele skade wat etlike honderde dui-sende Rande beloop – insluitende reusekrake – is reeds aangerig. Elke keer wanneer dit reën, vererger die pro-bleem.

“Hoewel van die krake kosmeties herstel is, kan geen behoorlike herstelwerk aan die gebou geskied voor daar nie ’n permanente oplossing vir die waterprobleem gevind word nie.”

Volgens hom het die munisipaliteit reeds op 24 Julie 2019 die perseel besoek, maar tot dusver is daar nog nie veel gedoen om die probleem op te los nie. Terugvoering is ook min.

“Die munisipaliteit het probeer om die stormwaterpyp oop te spuit, maar sonder enige sukses,” sê hy. “’n Spesiale kamera is toe ingespan om vas te stel waar die probleem is – wéér sonder sukses.

“Nagenoeg twee maande later het munisipale werkers ’n gat begin grawe om toegang te kry tot die stormwaterpyp – wat vanaf Sevos Sentrum by die hoofstormwaterpyp aansluit. “Dié werk is twee dae later gestaak weens die aantal en nabyheid van lewende elektriese kabels.”

In Januarie, vanjaar is ’n ge-deelte herstel van die pyp wat platgeval het.

“Sedertdien het nog niks verder gebeur nie,” sê hy.

Bryan Dhludhlu, portefeulje-raadslid vir infrastruktuur en ingenieurswese, sê: “Dankie dat u die saak onder ons aandag gebring het. Ek sal dit met die betrokke bestuurder opvolg om vas te stel wat die oorsaak van die vertraging is en hoe die probleem so gou as moontlik opgelos kan word.”

You need to be Logged In to leave a comment.