Onnies help om oë te red

SY moes al van laerskool met haar gesig feitlik teenaan haar boek sit om te kan sien . . . en moet heel voor in die klaskamer sit.


SY moes al van laerskool met haar gesig feitlik teenaan haar boek sit om te kan sien . . . en moet heel voor in die klaskamer sit.

Graad 11 JBay Comprehensive High School-leerder, Ruasha Groenewald (18) van Pellsrus in Jeffreysbaai, benodig dringend ’n kornea-oorplanting om haar sig te red.

Hoewel onderwysers hard aan die woeker is om haar te help, skort fondse.

Dié skool se ATKV-jeugtak het onlangs R1 000 tydens ’n talentkompetisie ingesamel – slegs ’n druppel in die emmer.

Die totale koste van die broodnodige operasie beloop meer as R100 000. Die operasie kan in Port Elizabeth gedoen word, terwyl die korneas van Amerika kom.

Ruasha se pa, Riaan Groenewald, vertel: “Ons het eers besef iets skort met haar oë toe ’n oogarts die plaaslike laerskool waar sy was, besoek het.”

“Ruasha het ’n bril gekry, maar haar sig het mettertyd versleg.”

Haar ouers het haar na ’n algemene praktisyn op die dorp geneem – ’n tweede bril het gevolg. Dié het egter ook net vir ’n kort tydperk gehelp.

Dit was eers toe Ruasha na ’n oogspesialis geneem is, dat haar siekte gediagnoseer is: kromming van die kornea. Dit is ’n toestand waar die kornea uitbult en sig belemmer. Die toestand vererger mettertyd.

Die nuus dat sy dogter kornea-oorplantings in albei oë moet kry om haar sig te red, was ontstellend en angswekkend, sê Riaan.

“Maar nou weet ons daar is hoop. Iets kan gedoen word.”

Omdat daar ’n lang waglys vir kornea-oorplantings by staatshospitale is, mik hulle om nagenoeg R100 000 in te samel om die operasie by ’n privaat-spesialis te laat doen.

“Indien die operasie nie gedoen word nie, kan Ruasha binne die volgende tien jaar blind wees,” sê Riaan.

“Na die operasie sal Ruasha, ’n leergierige kind wat voorheen in netbal uitgeblink het, haar volle potensiaal kan bereik,” sê Riaan.

Die gesin hoop om intussen spesiale kontaklense vir Ruasha te kry.

“Die kontaklense druk die kornea plat en help om haar sig te verbeter. Dit is egter net ’n tydelike oplossing,” sê Riaan.

Die skool, ’n nie-winsgewende organisasie, doen ’n beroep op die gemeenskap om die familie finansieel te help.

Die skool beoog om verskeie fondsinsame-lingsgeleenthede te hou om fondse vir Ruasha in te samel, onder meer ’n Jazz-aand.

Vir meer inligting, kontak Sharifa Louw by 079 517 1799 of Sorika Hardy by 063 461 8099.

You need to be Logged In to leave a comment.