DIE dapperheid van ’n “oom” en ’n pienk reddingsboei van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het tot die redding van twee tienerseuns by Oesterbaai gelei.
Die seuns, albei 14 jaar oud, het Maandagmiddag in die moeilikheid beland toe hulle deur ’n sleurstroom in die see by Oesterbaai se hoofstrand meegesleur is.
Hulle was deel van ’n groep van drie tieners en drie kinders wat omstreeks 13:30 saam met hul oom, Ricardo Kettledas (29), geswem het.
Die kinders het in die vlakwater geswem en hulle kon uitkom toe die sleurstroom hulle begin intrek.
Kettledas en een van die tieners het ook uitgeswem, maar die ander twee tienerseuns kon nie.
Kettledas het die pienk boei, wat die NSRI op verskeie strande beskikbaar stel, gegryp en daarmee die see in geswem.
Luidens die NSRI se verklaring het hulle kort daarna by die strand ondersoek ingestel nadat hulle inligting ontvang het oor iemand wat die pienk boei gebruik.
Kettledas kon intussen een van die twee tieners veilig uit die see kry, maar hy was be-wusteloos.
Lodewyk van Rensburg, NSRI-bevelvoerder van die Oesterbaai-kantoor, het kort daarna op die toneel opgedaag. Terwyl hy die tienerseun gehelp het, is hy ingelig dat die tweede tienerseun steeds in die branders vermis word.
Van Rensburg het in die verklaring gesê hy het geweet bykomende NSRI-lede was na die strand onderweg en daarom het hy besluit om die tiener in die sorg van omstanders te laat, terwyl hy saam met Kettledas na die tweede vermiste tiener in die see gaan soek het.
Hulle het dié tiener kort daarna beweging-loos agter die branders gevind en hom met behulp van die pienk boei strand toe gebring.
Op die strand het Van Rensburg met mond-tot-mond-asemhaling begin. Die tiener het toe geen polsslag gehad of asemgehaal nie.
’n Ligte polsslag is sekondes later gevoel, waarna die seun met die aankoms van paramedici na ’n plaaslike hospitaal gehaas is. Hy is later na die waakeenheid van ’n hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas.
Ook die eerste tiener, wat deur Kettledas gered is, is in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.
Van Rensburg het Kettledas vir sy hulp bedank.
Maandag se voorval het die aantal mense wat met behulp van ’n pienk reddingsboei gered is tot 56 opgestoot.