ANNELINE Juries bedryf ’n sopkombuis in die Sea Vista nedersetting in St Francisbaai waar sy haarself onselfsugtig wy aan die vul van honger mae in haar gemeenskap. Almal is welkom voor haar deur, van kinders tot bejaardes.

Juries vertel dat sy die sopkombuis in 2015 aangepak het na die afsterwe van die vorige dame wat dit bedryf het. Juries was so aangeroer deur die goeie werk wat by die sopkombuis gedoen is dat sy besluit het om dit voort te sit.

“Dit was ’n mooi ding wat An’ Aggie gedoen het. Sy het baie mense gehelp wat nie kos gehad het nie. Ek het besluit om aan te gaan daarmee.”

Magret Kees en Anneline Juries. Foto:VERSKAF

Juries se sopkombuis teiken onder andere kinders wat in Humansdorp skoolgaan. Die busse laai hulle na skool naby haar huis af en dan meld die kinders aan vir hul middagete.

“Die kinders wat in Humansdorp skoolgaan is dikwels te laat vir die ander sopkombuise wanneer hulle van die skool af kom. Hier is nie ’n hoërskool in St Francisbaai nie en die kinders moet Humansdorp toe gaan om geleerdheid te ontvang. Ek het besluit dat ek vir hulle sal sorg. ”

Met die hulp van haar bejaarde moeder en drie dames uit die gemeenskap wat nou en dan kom help, pak hulle die daaglikse taak met ywer aan. Anneline erken dat sy dit nie sonder die hulp van haar moeder sou kon doen nie. Saam-saam sorg hulle dat geen persoon wat aan haar deur klop met ’n leë maag wegloop nie.

Die dames wat haar in die kombuis help was ook eens werkloos, maar Juries het deur haar sosiale media-gevolg vir hulle werk gekry. Sy is baie trots daarop dat sy hulle ook op daar-die manier kon help. Op die dae wat hulle nie werk nie kom help hulle haar kook.

“Ons help almal, van die oumensies in die gemeenskap wat geen inkomste het nie tot die jonger mense wat in die village sit en kos soek en werk soek. Ek maak ook klere bymekaar vir die mense in my gemeenskap. Enigiemand wat ’n behoefte het weet dat hulle my kan kom vra en ek sal pro-beer help waar ek kan. Ons het ook al komberse uitgedeel vir mense in ons gemeenskap.”

Volgens Juries het sy, vandat sy besluit het om ook kos aan werklose jongmense te verskaf, ’n baie duide-like afname in huisbrake en misdaad in haar omgewing beleef.

“Mense steel omdat hulle honger is. Oor die algemeen wil sopkombuise nie jong volwassenes bedien nie omdat die nood onder kinders en bejaardes so groot is. Dan moet hulle steel om te oorleef. Ek het besluit om hulle ook te bedien en ek sien werklik ’n verskil in my gemeenskap vandat ek besluit het om daardie mense ook te help.”

Juries vertel dat sy tans drie borge het. Dit is doodgewone mense uit die St Francisbaai gemeenskap wat hulle harte teenoor haar oopgemaak het en haar help om, letterlik, die pot aan die kook te hou. Hierdie weldoeners verskaf haar om die beurt met bestanddele en gas.

“Mense is wonderlik. Elke keer wat ek op sosiale media vra vir groente of bestanddele is mense dadelik bereid om te help. Mense kontak my en kom laai vir my groente af.

“Sonder mense met oop harte en hande sou hierdie projek nie gewerk het nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.