Beskuldigdes wat tans op borgtog of waarskuwing is, hoef hulle nie gedurende die inperkingstydperk by die Oos-Kaap se howe aan te meld nie.
Die nuwe reël geld ook getuies wat gedagvaar is om gedurende dié tydperk in die hof te verskyn.
Hoewel die howe reeds sedert die begin van die staat van inperking toegang tot hofgeboue streng beperk het, gaan sake wat reeds op die hofrol is in dié tydperk voortaan in die afwesigheid van beskuldigdes uitgestel sal word.
Luxolo Tyali, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NGV) in die Oos-Kaap, sê die direkteur van openbare vervolging in die provinsie het die besluit geneem om die verspreiding van die Covid-19-virussiekte te bekamp deur die openbare samekomste van mense te voorkom.
Ingevolge die besluit word beskuldigdes en getuies versoek om nie op hul hofdatums by die howe op te daag as dit binne die staat van inperking val nie.
Al dié sake sal in hul afwesigheid uitgestel word na ’n datum wat na verwagting buite die inperkingstydperk sal val.
Geen staatsaanklaer sal aansoek doen om ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van ’n beskuldigdes of getuie wat gedurende hierdie tyd nie in die hof is om hul saak te laat uitstel nie.
Die beskuldigdes sal deur middel van ’n dagvaarding oor hul volgende hofdatum in kennis gestel word, of as alternatief sal reël-ings tussen die aanklaer en regsverteenwoordiger getref word om die beskuldige in te lig.
Hoewel sake wat reeds op die hofrol is gedurende die tydperk uitgestel word, sal staatsaanklaers steeds teenwoordig wees in die howe om nuwe sake en borgtogaansoeke te hanteer.