Op 72 ken haar bene geen einde

LAAIE wat kreun van die goud . . . en silwer en brons.


LAAIE wat kreun van die goud . . . en silwer en brons.

Kareedouw-inwoner Liz Jenkerson (72), ’n klein figuur met grys hare wat die jonger langasems op hul tone hou, het al honderde medaljes oor die jare losgehardloop – onder meer die halfmarathon-goud vir vroue ouer as 70.

Jenkerson, van Muiride Riders, het die goue medalje in die 21.1km halfmarathon vir haar ouderdomsgroep in ’n haastige twee ure, vier minute en 24 sekondes ingepalm. Dit was 41 sekondes vinniger as haar 2018-tyd, wat aan haar ’n silwer medalje besorg het.

Sy het dié wentyd op Saterdag, 27 Julie in Port Elizabeth aangeteken.

Slegs twee weke later, wen sy ’n goue medalje in die 70+ ouderdomsgroep by die jaarlikse 10km Diva Run in Port Elizabeth.

Sy spog verder met ’n silwer medalje vir die SPAR Women’s 10km Challenge wat jaarliks in Mei die pad vat.

Sy het sedert haar eerste padwedloop die Twee Oseane-marathon (elf keer), Comrades-marathon (ses keer), Bay Ultra-marathon (tien keer), Oor die Berg-wedloop (twee keer) en 60km Clover Seltters Ultra-marathon voltooi.

Alles wedlope op haar emmerskoplys.

Jenkerson sê sy het in haar jonger dae glad nie aan sport deelgeneem nie – nie eers op skool nie.

Sy het eers op die rype ouderdom van 50 begin hardloop nadat ’n kol-lega haar gevra het om aan die gewilde treinresies deel te neem.

Sy glimlag breed: “Na daardie eerste padwedloop, was ek verslaaf.

“Ek is baie lief daarvoor. Jy ontmoet sulke gawe en interessante mense – jy word een groot familie.”

Nou is stilsit beslis iets van die verlede met haar kalendar wat meestal weekliks minstens een wedloop insluit.

Buiten die wedlope, hardloop sy byna elke oggend 10km – in sonskyn en wind.

Net die reën hou haar binne-in die huis.

“Op ’n mooi oggend voel jou gesig sommer lewendig,” sê sy.

Volgens Jenkerson het die aktiewe leefstyl ’n groot invloed op haar gesondhied.

“Van skete is daar nie sprake nie. Ek het nie eers hoë bloeddruk nie.”

Gaan sy binnekort haar hardloopskoene ophang?

“Beslis nie. Ek hoop om nog vir baie jare te hardloop – dalk net korter afstande.”

You need to be Logged In to leave a comment.