Op 92 is Gill die beste brugspeler

Sy speel minstens vyf keer per week die kaartspel brug, waarvan die meeste aanlyn gespeel word.

Gill Browning met 'n skootrekenaar wat brug speel.
Gill Browning is oral bekend onder brugspelers, en hulle wil graag met haar speel. Credit: Veronica Fourie

Sy speel minstens vyf keer per week die kaartspel brug, waarvan die meeste aanlyn gespeel word.

“Dit is ‘n lewenslyn vir my, dit hou my verstand helder, ek ontmoet nuwe mense en dis intellektueel,” sê die bejaarde vrou in haar sonnige vertrek in Jeffreysrus aftree-oord.

Jaarliks word lede van die Jeffreysbaai Brugklub se punte bereken, en Gill het laas met die hoogste punte gespog en was speler van die jaar.

Gillian Browning en haar suster, Patsy, het as jong dogtertjies op twaalf by hulle ouma leer brug speel. “Dit was ‘n reënerige dag op die plaas by Somerset-Oos en ons kon nie buite speel nie. Ons ouma het ons toe leer brug speel. Daardie jare was dit nog ‘n makliker spel as deesdae. ”

‘n Week daarna het haar ouma gaan brug speel , maar hulle het twee spelers gekort. Die twee jong spelertjies is ingespan, en jou waarlik: hulle klop toe die oor-sestigjariges!

Na jare is sy getroud en haar man het ook deel geword van die brugspelery gedurende vakansies op die plaas. Gill was ‘n verpleegster by die Provinsiale Hospitaal in Gqeberha, en het haar oor ‘n wewenaar vriend op Jeffreysbaai ontferm. Hulle het aangesluit by die dorp se brugklub wat toe nog by die gholfklub was. Toe sy later na die Skulpiedorp verhuis na aftrede, het sy voortgegaan as lid van die Jeffreysbaai Brugklub.

Op 92 is sy nog gesond en helder van verstand. “In die Covid-tyd moes ons begin aanlyn speel. Ek het geweet ek moes die tegnologie omhels en tot my voordeel gebruik. Op ‘n Maandag speel ons fisies saam, wat baie lekker is. En dis belangrik om ander mense te sien. Ons het mense nodig en kan nie in isolasie leef nie. Ek is ‘n gemiddelde speler, maar behaal dikwels die meeste punte. Dis pret – ek gee nie om as ek laaste eindig nie.”

Gill sê dis belangrik om gereeld te speel en te hou by jou konvensie (die soort spel wat mens kan speel). “Ons speel die ‘standard American yellow card’. Maak seker jy ken dit goed. Dis ‘n taktiese spel, en het oor die jare baie verander. Destyds het vier spelers met een pak kaarte gespeel. Deesdae moet spelers net aan punte dink!”

Gill is oral bekend onder brugspelers, en hulle wil graag met haar speel. Die klub het sowat sestig spelers oor die wêreld – van onder meer Engeland, Spanje, Luxenburg, Holland, Duitsland en die “swaeltjies” wat gereeld reis.

Sy was ‘n kranige tennisspeler, toergids, en voëlkyker. Deesdae hou sy haar besig met brug, legkaarte, woordspeletjies, lees en Sudoku. Gill berei self van haar etes, luister musiek, en leef elke dag asof dit haar laaste is. Op negentig het sy haar motor se sleutels opgehang. Sy maak gebruik van afleweringsdiense, en neem ‘n taxi as sy wil gaan kuier. “Ek glo die lewe is ‘n skool. En ek glo alles gebeur met ‘n rede!”

Sy het twee seuns, waarvan een in die Baai woon, en die ander een in Engeland. Haar dogter is oorlede.

• Belangstellendes wat graag wil leer brug speel, kan Letje Smit kontak by 0722802003.

You need to be Logged In to leave a comment.