DIE Dierebeskermingsvereniging (DBV) Assisi Humansdorp het ’n geliefde troeteldier weens ’n “menslike” fout onregmatig uitgesit – slegs dae na dié hond enkele meters van sy eienaar verwyder is.
Pellsrus-gemeenskapswerker Gladys Be-zuidenhout vertel huilend: “Ons vyfjaaroue basterhond, Bruno, het Dinsdag, 14 Januarie, my dogter na haar werk in Jeffreysbaai gevolg – iets ongewoons vir hom.
“Dit was eers toe die DBV se voertuig agter haar in Jeffreystraat stop, en oor Bruno uitvra, dat sy besef hy volg haar vanaf Pellsrus af.”
Volgens Bezuidenhout, het die DBV ná ’n kort woordewisseling oor ’n ontbrekende halsband en die onvermoë om hom weens werksverpligtinge terug huis toe te neem, Bruno in hul voertuig gelaai en na hul perseel in Humansdorp geneem.
Maar nie voor Bruno die DBV-werknemer se hand gebyt het nie.
Sy vee die trane uit haar oë: “Bruno hou nie daarvan dat vreemde mense aan hom vat nie. Net ons kon aan hom vat.
“Hy het egter nog nooit ’n kind of ander dier aangeval nie – al is hy ’n paar keer deur ander honde gebyt. Sy talle letsels getuig hiervan.”
Weens ’n boete van R50 per dag, kon die Be-zuidenhout-familie eers die Vrydag (op be-taaldag) Bruno by die DBV gaan haal.
Hulle is egter vroeg Vrydagoggend deur ’n ander plaaslike dierebeskermingsvereniging ingelig dat Bruno reeds uitgesit is – ’n onbe-kende begrip vir Bezuidenhout wat aanvanklik gedink het hulle het die hond buite op straat gesit.
Tóé kom die groot skok.
“Hulle het my honde-kind doodgemaak,” ween Bezuidenhout hartverskeurend.
Volgens haar is verskeie redes vir die ‘genadedood’ voorgehou: ’n gevaarlike aansteeklike siekte en toe ’n beseerde poot wat on- draaglike pyn veroorsaak het.
“Hoekom kon hulle nie die poot amputeer nie? Ons sou op ’n manier die R3 000 vir die operasie bymekaargemaak het,” sê sy.
Bezuidenhout sê dat almal in die Pellsrus-gemeenskap vir Bruno geken het – hy was oral geliefd en het gedurig peuselhappies van inwoners en winkeleienaars ontvang.
Sy vertel van Bruno se mannewales: “As daar ’n klop-klop-geluid by die voordeur was, het ons geweet, Bruno wil inkom. ’n Poot op die deurknop – hy wil uitgaan.
“En as ons sê ‘dans vir mamma’, staan hy op sy agterpote en swaai sy lyf.”
Bezuidenhout, wat nou ander van die groot onreg wil bewus maak, het slegs ’n pienk kosbak en groen tandeborsel van Bruno oor.
Al sy foto’s het saam met haar vorige sel-foon vermis geraak en sy spesiale babakom-bers het spoorloos verdwyn.
Volgens DBV Assisi Humansdorp voorsitter, Gerhard Fouché, erken die nie-winsgewende organisasie dat ’n fout begaan is.
“Die betrokke werknemer het verkeerd opgetree en die nodige stappe sal teen hom ge-neem word.
“Die komitee vergader later vandag, en meer inligting sal dan beskikbaar wees.”
Die DBV gaan ’n nuwe hond vir Bezuidenhout gee.