Otter-wandelpad is 50 jaar oud

SANPARKE moedig mense aan om die Tsitsikamma-gebied van die Tuinroete Nasionale Park te besoek.


SANPARKE moedig mense aan om die Tsitsikamma-gebied van die Tuinroete Nasionale Park te besoek.

Die wêreldbekende Otter-wandelpad (in die Tsitsikamma-gebied) is vanjaar 50 jaar oud en die Tsitsikamma- beskermde gebied (voorheen die Tsitsikamma Nasionale Park) 54 jaar oud. Die Tsitsikamma- beskermde mariene gebied is ook die oudste in Afrika.

Ons moedig mense aan om die park te besoek en om bewusmaking te skep oor die mariene lewe wat ook die rede is waarom die park tot stand gekom het,” sê Nandi Mgwadlamba, woordvoerder van Sanparke.

Luidens ’n verslag oor die park wat van 2005 dateer, is die Tsitsikammaberg tussen 900 m en 1 500 m hoog.

Die algemeenste boomspesies sluit in melkhout-, geelhout-, Kaapse stinkhout-, witpeer- en Outeniqua-geelhoutbome.

Diere soos die blouduiker, grysbok, rooikat, Kaapse otters en bosvarke kom in die gebied voor.

Mgwadlamba sê dele soos De Vasselot en die bosgebiede waar die Groot Boom – ’n Ou­teniqua-geelhout – voorkom – is by die Tsitsikamma-gebied ingesluit toe die departement van bosbou bates rondgeskuif het vir Sanparke om te bestuur.

Tsitsikamma beteken “plek van skoon water”.

Die mariene beskermde gebied is verdeel in die beheerde sone by De Vasselot en die Tsitsikamma- mariene beskermde gebied.

Van die kuslyn is 20% gehersoneer om hengel vir plaaslike gemeenskappe toe te laat.

In die Tsitsikamma- beskermde mariene gebied alleen is 202 spesies vis aangeteken. Van dié spesies verskyn 15 op die International Union for the Conservation of Nature se rooi datalys van byna bedreigde of kwesbare spesies.

You need to be Logged In to leave a comment.