Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Noudat ek al self die ouderdom gehaal het van pensioentrekker, is ek baie bewus van die bydrae wat ’n mens steeds in die samelewing kan maak. Nie net op die gebied van jou vroeëre beroep nie, maar ook in die gemeenskap.

Maar jittetjie tog – party politieke leiers klou darem erg aan hulle poste en mag. Vir baie van hulle sou ek aanraai om eerder die rustigheid van die afgetrede lewe te geniet en die energieke, dinamiese jong opkomende leiers kans te gee om die land ’n bietjie reg te skud met nuwe idees.

Dink nou maar aan Mangosuthu Buthelezi wat onlangs op 95 oorlede is en tot sy dood in ’n leierskapsposisie was. Hy het die idee van wysheid-met-die-grysheid bietjie ver gevat.

In ons parlement is dr. Nkosazana Dlamini Zuma op 74 die oudste, en ironies is sy die minister van onder andere jeugsake.

Ministers Pravin Gordhan, Patricia de Lille en Bheki Cele is op haar hakke. Selfs ons president, Cyril Ramaphosa, het reeds sy 70ste verjaarsdag gevier.

Ministers Angie Motshekga, Naledi Pandor en Gwede Mantashe sal binne ’n jaar of twee ook sewentig kersies op die koek moet probeer doodblaas.

Ook Amerika het die probleem met die bejaardes wat langer bly as wat hulle welkom is. Die president van die Verenigde State van Amerika, Joe Biden is al 80! Die minderheidsleier van die senaat, Mitch McConnell, sit stewig op sy stoel op 81, ondanks beroertes op kamera. En Donald Trump wil op 77 weer probeer om die land te lei.

Daar is soveel indrukwekkende jong aktiviste en politici in ons land wat na my mening die kundigheid en moed het om sake reg te ruk.

Die vurige rooikop burgemeester van uMngeni, Chris Pappas, stuit op 32 vir niks. Net so die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, ook 32, wat al sy merk duidelik gemaak het met vernuwende denke. En Cilliers Brink, 36, koelkop burgemeester van Tshwane laat hom nie deur unies intimideer nie.

Ook die voormalige uitvoerende burgemeester van Nelson Mandelabaai, Retief Odendaal, is ’n raakvatter op 41 en skroom nie om sy moue op te rol nie. Dan is daar nog Ithumeleng Ntsube wat op 20-jarige ouderdom die jongste parlementslid geword het.

Ons kan nie vergeet van die politieke aktivis Ian Cameron wat op 32 kordaat weier om deur polisieminister Bheki Cele stilgemaak te word nie. En die dinamiese Songezi Zibi wat op 48 ’n nuwe party gestig het omdat hy die moed en hoop het om Suid-Afrika ’n beter plek te maak vir al sy mense.

Dis tog jammer dat jong vroulike leiers skaars is. Sal dit wees weens die ou garde se manier van doen? Weens politiekery het ons knap leiers soos Mbali Nthuli en Lindiwe Mazibuko verloor. Ons het meer millennium leiers nodig.

Die oueres klou seker om verskillende redes aan hulle ampte. Dalk dink hulle die kiesers verkies dit omdat oueres waarskynlik die regte antwoorde het. Dalk hou hulle van die beheer oor ondergeskiktes. Ouderdom word dalk met wysheid vereenselwig. Maar daar is tog ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Politici moet dalk ook ’n aftree-ouderdom hê.

You need to be Logged In to leave a comment.