Jeffreysbaai se InFood Bakery en Deli-bestuurder, Tsidi Kotyi (tweede van regs), het Vrydag in samewerking met die Umanyano Iwa Mantombazana akwa-Nomzamo-kerkgroep, sanitêre ware by die Laerskool Mzingisi in KwaNomzamo, Humansdorp aan leerders uitgedeel. Hier is Nolitha Renqu, Ziyanda Beda, eerwaarde Lusindiso Nyiki, Phunyezwa Ngqandu, pastoor Mvuleni Velebayi, Reanetse Mqheedlana, Tsidi Kotyi en Zaza Mbuqe. Foto’s’:MONIQUE BASSON


SY is nie net deel van die gemeenskap nie; sy lúíster na die mense, neem hul kultuur in ag, hoor wat hul behoeftes is en bewerkstelling ’n plan wat so ’n groot verskil moontlik sal maak.

Dít is die beginsels waarop Jeffreysbaai se bekwame InFood Bakery en Deli-bestuurder, Tsidi Kotyi (34), haar passie uitleef en haar beywer om mense se lewens in behoeftige gemeenskappe op te hef. Sy slaag selfs daarin om mense te laat inspring en te help.

Als om ’n positiewe verskil te maak.

Kotyi vertel geesdriftig van die nuwe projek wat sy, in samewerking met die Umanyano Iwa Mantombazana akwa-Nomzamo-kerkgroep, aan-gepak het en nou ’n waardevolle bydrae aan jong skooldogters lewer.

Die projek behels om broodnodige sanitêre ware in te samel vir Graad 4 tot 10 Humansdorp-leerders wat dit nie kan bekostig nie.

Haar helderpers lippe trek vasbeslote saam: “Dit is baie belangrik: baie van dié leerders het nie genoeg sanitêre ware om deur die maand te kom nie. Die meisies is ook te skaam om vir hulp te vra en bly dus vir tot vyf dae ’n maand by die huis. Dit veroorsaak dat hulle tot 55 skooldae per jaar kan misloop en met hul skoolwerk agterraak.

“Mense sal dit nie glo nie, maar sa-nitêre ware is ’n luuksheid in baie huishoudings. Ons het ouers wat aan ons vertel dat hulle moet kies tussen brood en sanitêre ware vir hulle dogters.”

Naaste liefde

Kotyi, wie se ma oorlede is toe sy slegs drie maande oud was, het ‘n liefde vir gemeenskapsdiens wat op ’n baie jong ouderdom begin het.

“Ons was nooit ryk nie, maar liefde en omgee was daar in oorvloed. Ons huis het altyd vir mense in nood oopgestaan – bekende of vreemdeling. My pa het nooit iemand weggewys nie en was altyd gewillig om te help; sonder om te mor of iets terug te verwag. Nie eers ’n dankie nie.

“Ek het baie lesse by hom geleer; goed soos omgee, opregte naasteliefde, medemenslikheid en om te gee sonder voorbehoud.”

Sedert haar pa se afsterwe toe sy in graad 8 was, sit sy die goeie werk voort. Al het sy self nie veel nie – wat sy het, sal sy gee – sonder om te tel hoe-veel mense sy help of om iets terug te verwag.

Vir haar is dit goed genoeg dat die Here sien wat sy doen en dat dit wat sy doen, uit haar hart uit kom.

Dit is net wie sy is: fyngebou met groot oorbelle, en nog ’n groter hart.

“Jy kan enigiets doen as jy ’n groot genoeg hart, liefde en passie het. Dit moet deel van ons almal se lewe wees, sommerso terloops, ongeag jou ouderdom,” sê sy.

Tussen al haar liefdadigheidswerk, waarom juis sanitêre ware?

Sanitêre produkte

Kotyi, ’n oud-leerder van die Laerskool Mzingizi, glimlag breed: “Daar is verskeie voedingskemas by skole in plek vir honger leerders. Maar wanneer dit by sanitêre produkte en persepsies oor menstruasie kom, is daar ’n groot leemte.

“Dit lei daartoe dat jong meisies ’n lae selfbeeld kry. Dit veroorsaak vrees en verleent-heid. So erg dat baie leerders wat nie sanitêre ware kan bekostig nie, gemiddeld ’n week uit elke maand nie skool toe gaan nie.

“Dié dat ons as ’n groep besluit het om die leerders te help.”

Met die hulp van eerwaarde Lusindiso Nyiki en mede-gelowiges, het hulle binne ’n japtrap genoeg produkte vir die 340 graad 4 tot graad 7-leerders by die Laerskool Mzingisi in KwaNomzamo, Humansdorp ingesamel.

Dit is Vrydag aan leerders oorhandig.

Die Graad 8 tot 10-leerders by die Lungiso Hoërskool in KwaNomzamo het ook sanitêre ware ontvang.

“Dit wat ons doen, is niks vergeleke met die vernedering wat arm meiseis sonder sanitêre ware moet deurgaan nie. Van hulle gebruik uit desperaat-heid koerantpapier, gras en boombas om skoon te bly,” sê Kotyi.

“Deur net ’n pak of twee te skenk, kan inwoners ’n meisie hierdie vernedering spaar en dalk help dat sy die eerste een in haar familie word wat skool voltooi en uiniversiteit toe gaan.”

Help só

Enige skenings van sanitêre doekies is welkom – net wat jy kan bekostig.

“Een pakkie . . . twee pakkies . . . of drie pakkies kan die wêreld se verskil vir een minderbevoorregte leerder beteken,” sê sy.

Vir meer inligting, skakel Kotyi by 082 265 7687.

You need to be Logged In to leave a comment.