Oudste visserman se seelus

’n SAGTE vrou met ’n stralende glimlag kom trap-af toe ons by die Pellsrus-huis instap.


’n SAGTE vrou met ’n stralende glimlag kom trap-af toe ons by die Pellsrus-huis instap.

Kathleen Titus (73) nooi ons om te sit en Dail Titus (76) word voorgestel as die oudste visserman hier rond.

Hy meen ewe beskeie dat “Jan Pêrels daar oorkant” hom klop.

Lank en skraal . . . sy oë kyk ver asof die horison wink.

Die Titus-egpaar is beide hier gebore en getoë. Titus was van kleins af mal oor die bote. Sy vrou sê hy was nog op skool dan spring hy weg en gaan bote toe. Dié twee pasmaats is 53 jaar getroud.

Hulle gesels oor vervloë dae toe die roeibote nog op die strand ingesleep is na ounag se vangs.

Titus sê, “Ons was nog kinders. Ek het gewerk saam met die oumense as jong seun. My oupa het ses seuns gehad, dan kort hy net een man om die span vol te maak.

“Dan het ’n oom of hy ingespring – so het hulle saamgewerk.”

Kathleen vertel, “In die winter het die bote in die donker uit die see gekom. Hulle het lig gemaak deur bande te brand sodat die manne kon sien waar om uit te land.

“Van die vis wat op die strand verkoop is, moes ons die geld vat om te gaan olie en paraffien koop by Kenny Reiley se winkel. Dit moes huis toe, en dan bring ons die eetvis.”

As die vissers genoeg geelbek en kabeljou gevang het, mag hulle een huis toe vat.

“Dié is in sulke toutjies gesny,” sê sy.

In daardie tyd is met die lyn visgevang.

Kathleen vertel, “Ons het bloed bo by die slagpale gekoop, dan smeer hulle die lyn met die bloed om die vis te vang. Later het die derms ingekom.”

Ek vertel van kleintyd se karavaankamp op Paradysstrand en op die strand wag as die bote inkom, en Kathleen herroep dat “tant Engeltjie ’n kafee by die strand gehad het waar sy sulke horings verkoop het”. Vandag heet dit Kitchen Windows.

Die bote het nooit op Sondae uitgegaan nie. Almal moes rustig wees en kerk toe gaan. Saterdae eenuur het die winkels al toegemaak.

“Ons het lekker kinderjare gehad,” mymer die paar. Hulle self spog met vier seuns en twee dogters. Die oudste is na haar ouers vernoem – Daileen.

Na die roeibote, toe kom die aanboord-enjins in, vertel Titus. Daarna is hy tjokkabote toe.

Ek vertel van kreefvang aan die Weskus, en Titus sluit aan met: “Ons het op die groot bote (hiér voor of in Tsitsikamma) probeer kreefvang. Dan vat ons ’n krat en sny ’n halwe maasbanker om binne-in te sit. As die kreef binne is, kan hy nie weer uitkom nie.”

Die veelsydige man het ook vir 23 jaar as opsigter by die Pellsrus Primêre Skool gewerk. Maar, verlang hy, as “die seelus” kom . . . trek jou hart diepwater toe.

Op haar beurt het Kathleen toentertyd by Savoy Hotel en toe die Wimpy gewerk. Na dit was sy ook aan die skool verbonde.

Vandag lê die see net straataf, het hulle diep herinneringe, ’n huisvol nasate en, die belangrikste, die Here.

You need to be Logged In to leave a comment.