Hannes Bekker en sy seun, Heinrich (13).
Hannes Bekker en sy seun, Heinrich (13). Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – “Moenie ‘n krisis mors nie!”

Dit is die ingesteldheid van ‘n Jeffreysbaaise pa wat besluit het om sy 13-jarige seun ‘n kosbare lewensles te leer.

Hannes Bekker het naamlik die brandkrisis gebruik om sy seun Heinrich te bemagtig, deur hom oor die naweek saam te neem na die vernietigende brandtonele.

“Ek het gesien my seun was besig om soos vele ander van sy ouderdomsgroep, aanlyn rekenaarspeletjies te speel.

“Ek het eintlik impulsief besluit om hom saam met my te neem en hy was dadelik entoesiasties!”

Hannes vertel dat die vernuf van die helikopter- en die waterbomvliegtuigloodse hulle verstom het.

“Ons het ingespring om agter die boere se voorbrande sowat tien meter weg van die vlammesee, te help.”

Hannes en Heinrich was daar met Hannes se 4×4-voertuig met ‘n 1,000 liter “flowbin” en ook hul brandslaanflappe.

Hannes Bekker en sy seun, Heinrich (13).
Hannes Bekker en sy seun, Heinrich (13). Foto: Verskaf

“My seun het my verstom deur tot drie ure lank agter vlamme aan te hardloop met sy vuurplak.”

Hy sê die publiek se samewerking was ongelooflik. Tientalle bakkies het opgedaag met koue drinkwater, energiestafies, vrugte, koeldrank en broodjies.

“My seun kon verskeie lewensvaardighede wyser word naamlik dat onbeheersde vure binne enkele oomblikke tot ‘n ramp kan lei; dat indien ‘n gemeenskap saamstaan, daar wonderwerke kan gebeur; en dat selfs kinders ‘n rol kan speel tydens ‘n krisis en dat almal ‘n plig teenoor hul gemeenskap het.”

Heinrich is natuurlik allermins ‘n lui tiener. Die knapie het vroeër vanjaar aan die werk gespring met die maak van houtkiste en daarmee ‘n enorme bedrag van R50 000 ingesamel vir ‘n oorsese sporttoer.

Hy was deel van die SA Skopboksspan wat in Sheffield, Engeland aan die wêreldkampioenskappe gaan deelneem het. Hier het hy ‘n silwer en goue medalje verower.

Hannes sê dat hy en sy seun al geruime tyd een keer ‘n week ‘n afspraak het om iets saam te doen.

“Dit gebeur dikwels dat my preke aanleiding gee tot onwillekeurige gape aan sy kant. En nou het ek ook ‘n waardevolle lewensles geleer. Om iets prakties saam met jou kind te doen, is ‘n baie beter roete as om voortdurend te preek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article