Chris en Ronel Kleynhans bederf al die afgelope sowat veertien jaar lekkerbekke met veerligte pannekoeke. Hulle is ’n gedugte en geoliede span.

Foto: Veronica Fourie

Die Pannekoek Paleis se karavaantjie by ’n winkelsentrum in Jeffreysbaai, is al vir amper 14 jaar ’n bekende gesig vir inwoners en gereelde besoekers. Elke Vrydag en Saterdag staan smulpape tou vir varsgebakte pannekoeke, en ’n geselsie met Chris (84) en Ronel (76) Kleynhans.

Begin dae

Die egpaar is kort nadat hulle van KwaZulu-Natal na die Oos-Kaap verhuis het, gevra om by ’n mark op ’n naburige dorp pannekoek te bak. “Ons kom toe van Ladismith af waar ons ’n motorhawe gehad het. Ek het toe nog nooit ’n pannekoek gebak nie! Maar ons het daai dag ’n honderd verkoop,” lag Ronel. Mettertyd het die Pannekoek Paleis sy staanplek op Jeffreysbaai gekry.

Chris is ’n handige man. Hy het self die karavaantjie ombou en ingerig volgens hul behoeftes, en regulasies. Met sy kenmerkende kruisbande aan, bak hy op sy beurt boepensbroodjies met maalvleis op ’n gasvlam, daar langs Ronel met die pannekoeke. Dis ’n glad geoliede span die. Chris vertel dat hulle nooit gedink het dit sal so lank hou nie, of dat dit sulke harde werk is nie.

Giere

“Oor die jare leer ons van die gereelde kliënte se giere en smake. Party hou van baie suiker en kaneel, ander wil weer min daarvan hê. Dit bly maar die gewildstes. Ander verkies weer die vulsels soos melktert, hoender of karamel en piesang,” vertel die energieke Ronel. Party is al so parmantig – hulle gee net ’n toet en wys met die hand hoeveel pannekoeke hulle wil hê.

Harde werk

Dit sit nie in elkeen se broek om sewe ure lank te staan en pannekoek bak nie. Ronel sê hulle doen al die voorbereidings van die deeg en vulsels die vorige aand. “Die deeg moet ’n bietjie rus, en daar is ook nie plek of tyd om dit daar te doen nie. Dan wil die mense gou pannekoek hê!” Hulle bring emmers vol deeg saam. “Aai, ons hou al baie jare die prys dieselfde, maar met die koste van byvoorbeeld olie nou, sal ons moet anders dink…!”

Sy bak behendig met drie panne op ’n slag op ’n gasstoof. As Chris nie besig is nie, help hy met die vulsels en oprol. “Nee kyk, ek wikkel met die panne. Dis spesiale Teflon panne. Maar hulle hou net so twee maande, dan moet ek nuwes koop,” lag sy uitgelate.

Die begin van die inperkingstyd was ook vir hulle ’n groot slag, maar hulle kon gelukkig weer voortgaan met die nodige permitte.

Twakpraat

Dis duidelik dat mense nie net toustaan vir watertand pannekoek nie, maar ook vir die geselsies met die twee gemoedelike mense. Ronel verduidelik, “Ons het mense wat al op toontjies gestaan het as kinders vir pannekoek, en nou kom hulle kinders saam met hulle. My man gee vir die kinders stokkielekkers. Dis ’n hele gekuier en twakpraat. Ons los sommer die wêreld se probleme op! Ons geniet dit werklik. Pannekoek bring mense al van toeka af by mekaar.”

Geheime

Oor die resep vir die veerligte pannekoeke, sê Ronel, “Dis ’n plain common basaar pannekoekresep. Die geheim is dat die pan warm moet wees, en die olie moet in die deeg gemeng wees. Die deeg moet dun wees. En moenie verneuk met die eiers nie. Gebruik een eier vir elke koppie meel.”

Sy sê die ouens wat dik pannekoeke wil hê, kry twee op mekaar. En wraggies, haar eerste pannekoek van die dag is nooit ’n flop nie.

You need to be Logged In to leave a comment.