VOLGEHOUE skurkery, veral in vakansietye, op die pad tussen Jeffreys- en Astonbaai is iets waarteen motoriste steeds gewaarsku word.
Een van die nuwe giere is vir ’n voornemende dief om by ’n sirkel of spoedhobbel van die informele dorpsgebied te maak asof hy deur ’n motor gestamp is, en wanneer die motoris stop, sak drie of meer van sy maats op die slagoffer toe.
In ’n voorval die afgelope week was een van die booswigte met ’n graaf gewapen. Die kwaaddoeners het tydens die voorval gesien daar is te veel mense op die toneel (onder andere ’n personeellid van Smhart-sekuri-teit) en het laat spaander. Motoriste word gemaan op hul oë oop te hou as hulle die pad gebruik.
Ciske Vorster, eienares van Elly and Olive Organic Pet Products, en groot yweraar vir diereregte, het op openbare forum met skok gereageer nadat ’n klip die afgelope ’n paar dae gelede na hul motor geslinger is.
Sy en haar verloofde het in sy motor reg teenoor Kings College in Tokyo Sexwale gery toe ’n klein seuntjie langs die pad die klip na die motor gegooi het. Dit het die windskerm getref en die ruit laat bars.
Sy sê die kind kan nie ouer as vyf jaar oud wees nie. Dit het so skielik gebeur dat hulle niks kon doen om dit te verhoed nie nie.
Haar verloofde het besluit om ter wille van hul veiligheid nie te stop nie. Mense het met woede op die gebeure gereageer.
Die algemene gevoel is dat opvoeding en toesig nou meer nodig is as tevore in die lig van die plofbare situasie in die land.