Angelo Leen met sy krieketuitrusting.
Klein Angelo Leen is nie net ‘n puik krieketspeler nie, maar ook ‘n skaakkampioen. Credit: Verskaf

Dit wemel van sportpresteerders by die Laerskool Pellsrus op Jeffreysbaai. Die skool spog met van die Oos-Kaap se voorste gewigoptellers, maar talle ander presteer ook op ander vlakke.

“Dit gaan goed op sportgebied,” sê die organiseerder en afrigter, Lorenda Cleaven. “Ons prestasies word elke jaar net beter en beter, en ek kan nie wag om te sien waar ons volgende jaar hierdie tyd sal staan nie. Pellsrus het nog altyd met uitmuntende atlete gespog, maar 2025 het ons verwagtinge oortref.

“Drie van ons atlete, Ashlene Dolph, Jaycum Williams en Tatum Ruiters, was in die Sarah Baartman-span opgeneem en aan die Oos-Kaap-kampioenskappe deelgeneem. Dolph het ’n silwermedalje verower en die Oos-Kaapse span by SA kampioenskappe verteenwoordig. Sy het uitstekend gevaar en 13de in die land gekom en ons is dus baie opgewonde om te sien waarmee ons atlete ons in 2026 gaan verras.”

Die krieketseisoen het ook op ’n hoogtepunt afgesluit toe Andyiovan Roberts en Lhlume Ncenjana in Kouga se o.11-span ingesluit is. Dan het Johnny Windvogel en Daniël Felix Kouga se o.13-span gehaal. Hierdie vier spelers sal later vanjaar aan die OP-proewe deelneem.

Sewe van die skool se netbalspelers het Humansdorp se streekproewe gehaal. Een was o.12 en ses in die o.13-groep. Hulle het intussen ook aan die Kouga-proewe deelgeneem.

Op rugbygebied het drie spelers Kouga se o.13-span gehaal. Hulle is Fabian Tamboer, Henric Plaatjies en Calvin Titus. Pellsrus presteer ook in skaak nadat Angelo Leen die Mayoral Cup-titel gewen het. Hy is ook een van die skool se belowende jong krieketspelers.

Renaldo Witbooi soek lafenis tydens ‘n oefening.
Pellsrus se netbalspelers is vol energie en geesdrif.

You need to be Logged In to leave a comment.