OM hul dogter daagliks in soveel pyn te sien is absoluut ondraaglik, daarom het ’n egpaar in die Kouga-distrik, albei pensioenarisse, besluit om vanaf Jeffreysbaai tot in Kaapstad te stap om fondse in te samel vir hul dogter wat aan Veelvuldige Sklerose (VS) ly.
Adolf (71) en René van Emmenis (67) beplan om dié tog van 800km in Oktober vanjaar aan te pak en hoop om aan die einde van 21 dae hul mikpunt te bereik: om onge-veer R700 000 in te samel sodat hul jongste, René Van Zyl (38) ’n prosedure, bekend as koordweefsel-afgeleide mesenchimale stamseloorplanting (cord tissue-derived mesenchymal stem cell transplant), kan ondergaan.
Volgens Adolf be-oog hulle om elke dag 36km af te lê, met ondersteuningsvoertuie wat hulle vergesel en oefen hulle al die afgelope paar maande. Hulle sal ook elke aand in ’n gastehuis oornag.
“Ons lê tans tussen 15km en 17km per dag af maar hou aan met oefen. Ons is aan die gang. Ek het ook die familie, veral my drie ouer kinders, uitgedaag om ook iets te doen. My oudste dogter en haar man gaan fietsry en my een seun gaan gholf speel. René is ons jongste, sy is die oogappel,” het Adolf vertel.
Van Zyl, wat tans aan ’n rolstoel vasgekluister is en met behulp van ’n loopraam slegs enkele treë kan stap, is tien jaar gelede op die ouderdom van 28 jaar, kort na haar troue, met VS gediagnoseer. Sy is later ge-skei en het, volgens haar pa, intussen ’n de-kade van hel met VS deurgemaak.
“René is elke dag in pyn en het 24 uur per dag versorging nodig, veral wanneer sy die badkamer moet besoek. Soms het sy selfs hulp nodig om te eet,” het Adolf verduide-lik.
Hy het bygevoeg dat daar medikasie is wat dié ongeneeslike siekte kan onderdruk, maar dat dit hulle ten minste R10 000 per maand uit die sak sou jaag, geld wat hulle nie het nie.
Hy het begin navorsing doen en op dié prosedure by ’n kliniek in die Kaaiman- eilande afgekom wat die lewens van VS-lyers met 70% verbeter.
“Ek het verdere navorsing gedoen en afgekom op suksesverhale waar mense gesê het dat hulle vir langer as net ’n paar weke beter voel. Ons weet dat VS nie genees kan word nie, maar dit kan gekeer word dat dit erger raak,” het Adolf bygevoeg.
“Om as ouer jou kind elke dag so te sien is iets wat nie beskryf kan word nie. Ek raak bewoë as ek daaroor praat. Daar is geen ge-nesing vir die siekte en dit breek mens om te sien hoe jou kind elke dag agteruitgaan,” het hy gesê.
“Ons loods hierdie fondsinsamelingsveldtog om vir René nog ’n kans op lewe te gee en ons doen ’n beroep op individue of sakelui om ons te ondersteun deur R100 per kilometer of net enige bedrag te skenk, elke bietjie sal ’n verskil maak. Die prosedure is verskriklik duur en ons as pensioenarisse sal dit nooit in ons lewens kan bekostig nie.
“Ons pleit dat mense tog hul harte sal oopmaak en na René sal uitreik.”
Die Van Emmenis-egpaar se tog kan op Facebook, Twitter en Instagram gevolg word.
Die fondse sal deur ’n onafhanklike ouditeursfirma ge-oudit word om te verseker dat die geld nie aan enigiets anders bestee word nie.
Enigeen wat ’n bydrae wil maak, kan Adolf kontak op 082 440 7441. Sy vrou, René, kan ook gekontak word op 066 0756517.