Pharos begin aanlyn met kwartaal

DAAR is nie iets soos laat slaap en oneindige ure van speletjies of niksdoen vir leerders van die Pharos Skool in Jeffreysbaai nie.


DAAR is nie iets soos laat slaap en oneindige ure van speletjies of niksdoen vir leerders van die Pharos Skool in Jeffreysbaai nie.

Dié leerders gaan byna sedert die eerste dag van die nasionale staat van inperking “skool” toe. Maar met ’n verskil: hulle hoef nie hul huis te verlaat of skoolklere aan te trek nie.

Pharos het besluit om virtueel met die tweede kwartaal te begin en leerders vanaf graad R tot graad 7 volg sedert Dinsdag, 31 Maart die “normale skooldag” aanlyn.

Skoolhoof Fanie Vermaak sê hulle het vroeg in Maart reeds planne beraam om tydens die inperkingsperiode met klasse voort te gaan – ten spyte van vele uitdagings.

“Hierdie afgelope weke was ’n uitdaging vir al ons ouers, leerders en onderwysers,” sê hy. “Alles het verdwyn wat ons in die onderwys as vanselfsprekend aanvaar het. Ons moes vinnig planne maak sonder om die kwaliteit van ons onderrig in te boet – sonder ons klasse, konkrete hulpmiddels, leesboeke en lêers met hulpmiddele in.”

Onderwyl graad RR tot graad 3-leerders van weeklikse werkskaarte gebruik maak, volg graad 4 tot graad 7-leerders die nuwe “hibried tuisonderrig opvoedingsmodel”.

Die platforms wat gebruik word, is WhatsApp, Zoom en e-skool.

Graad RR tot graad 3

Weeklikse beplanning is vir graad RR tot graad 3-leerders uiteengesit en stap-vir-stap aan ouers verduidelik deur middel van eposse, WhatsApp-oproepe, video-oproepe, D6 en Zoom.

Daar is seker gemaak dat werks- kaarte aan al die leerders beskikbaar is. Leerders word op ’n gereelde basis gekontak om te bepaal hoe hulle vorder, asook om te hoor of hulle die werk baasraak. Vermaak lag: “Die Zoom-sessies raak lekker uitbundig as leerders weer hul klasmaats in groepsverband sien.”

Volgens Vermaak is die ouers en personeel wonderlik – almal help waar hulle kan.

“Die ouers help om werk te fotosta-teer vir diegene wat nie ’n drukker het nie,” sê Vermaak. “En indien ouers nie data of lugtyd het nie, word ’n plan gemaak. Dit is vir ons ononderhandelbaar dat al die leeders met die sillabus vir die tweede kwartaal voortgaan – ons almal wil ons kinders sien vorder. Nie een Pharos-familielid sal agtergelaat word nie.”

Graad 4 tot graad 7

Die intermediêre fase-leerders volg die nuwe “hibried tuisonderrig opvoedingsmodel”, geloods deur Pharos in Maart, vanjaar – ’n eerste vir skole in die Kouga-streek.

“Dié innoverende stelsel van afstandsonderrig het personeellede – onbewustelik – voorberei om volledig tegnologies gereed te wees vir die Co-vid-19 pandemie,” sê Vermaak.

Lesse word weekliks aanlyn in onder meer Engels, Afrikaans wiskunde, natuurwetenskap en sosiale we-tenskap aangebied – net soos dit in die klaskamer sou plaasvind. Dié lesse – opgeneem deur onderwysers waar hulle die werk verduidelik – word elke Maandag aan ouers per epos gestuur.

Personeellede is daagliks tussen 08:00 en 16:00 beskikbaar om ouers te help. Verder word Zoom-klasse aangebied.

Volgens Vermaak bevat alle werkstukke memo’s om te verseker dat werk gereeld deur leerders nagegaan word. Al wat leerders benodig is `n selfoon, tablet of skootrekenaar vir daag-likse interaksie met onderwysers.

“Ons is huidiglik volkome op skedule met die akademiese jaar,” sê sy.

Groei

Die aanlyn-leerprogramme is leerder- en ouervriendelik om te verseker dat leerders deurlopend akademies groei en ontwikkel.

Vermaak sê: “Vir ons – veral die wat al 50 jaar oud is – is dit `n reuse voorreg om te sien hoe tegnologie ingespan word om die warmte van `n klaskamer in leerders se huise te bring.

“As ek nou terugkyk, sou ek beslis nie wou uitmis op die persoonlike en geestelike groei, asook die wonderlike integrasie van tegnologie en menslikheid nie. Die afgelope weke het ons as `n skool nog nader aan ons leerders en hulle ouers se harte gekom – iets wat ons nie kon voorspel nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.