HY is in sy sewentigs, het dertien jaar in Skot-land gewoon, en eindelik die Hooglande kom verruil vir die wilde streke van die Oos-Kaap.
En nou het sy liefde vir natuurbewaring hom ’n moordende staptoer laat aanpak én laat oorwin – om die provinsie en ons mense bewus te maak van die belangrikheid van natuurbewaring.
Dié super-sewentiger, Fanus Vivier van Eedenglen-aftreeoord in Jeffreysbaai, was verlede maand een van ’n eksklusiewe groep stappers wat die Eden-na-Addo Wandeltog voltooi het. Dié onvergelykbare staproete van 400 kilometer strek van Knysna tot by Addo. “Roete” in hierdie geval is die vader van eufemismes, want die strompel oor al wat strui-kelblok is, tap elke greintjie energie van die fikste sportman.
Al was die meerderheid van die stappers sestigers, moes die veel ouer Vivier elke meter saam met hulle van boswêreld tot byna woestyn teen die natuur baklei. Daar is geen beplande roete nie, geen ander stappers om hulle aan te moedig of te waarsku nie. Geen rigtingwysers of ruskampe was in sig nie. Almal moes maar tande kners en oor uitgetrapte dierepaadjies en lang stofpaaie die boendoes inbreek.
Die opwaartse helling was 14 701 meter en die afwaartse 14 701 meter in twintig dae. Dit beteken ‘n gemiddeld van 735 meter na bo en 713 afwaartse helling na onder – elke dag.
Dié rowwe roete beweeg deur areas sonder heinings, waar olifante, renosters en buffels nog vry loop. Dan beweeg jy weer op die spoor van luiperds, bosbokke en rooi hartbeeste, soms deur byna ondeurdingbare bosse en bergwêreld. Al wat jou red, is die nag wanneer jou liggaam moet probeer herstel van die vorige dag se moordende pas. Ná byna drie weke was die vooruitsig van Addo wat met elke meter nader kom, die een gedagte wat hulle voortgedryf het.
Die doel van die bewaringstog is om grense te verskuif en bewaringsroetes tussen parke te vestig. Jaarliks word verskillende rigtings gevolg ten einde grondeienaars te ondersteun wat wil inskakel by geïdentifiseerde roetes.
Vivier sê: ”Die storie (agter die storie) is eenvoudig: daar is huidiglik geen groter bedreiging vir ons planeet as verlies van biodiversiteit nie.
“Fragmentasie van die landskap weens menslike aktiwiteit is die grootste rede vir agteruitgang van biodiversiteit. Die skep en onderhouding van bewaringsareas is die oplossing vir die probleem.”
Vir meer inligting oor die wandeltog, besoek edentoaddo.co.za.
Nuwe uitdaging: Kakaoveld
Vivier vorm deel van ’n klein groepie avon- turiers wat genooi is om in Mei 2020 deel te wees van ’n navorsingsprojek na die Kakao-veld in Namibië.
Dié tog sal hulle al langs ’n bewegende grens, die Kunene-rivier, verby neem. Dié groteske waterslang wat tussen Namibië en Angola kronkel, is al vir eeue ’n lewensbron vir die semi-nomadiese Himba, een van Afrika se min oorblywende en suksesvolle pastorale groepe.
Die tog begin by die Epupa-watervalle en sal die kronkelende loop van die Kunene volg. Die area kan slegs te voet bereik word, en bestaan uit reuse berge, klowe, ravyne en waterweë.
Himbas van die omliggende gebergtes sal as gidse dien, en pakesels sal voedsel en kamp-toerusting vervoer. Stappers sal hul kos op kampvure moet voorberei en onder die sterre langs die rivier oornag.
Min mense was al bevoorreg om hier rond te beweeg. Die doel met die tog is weereens om die land bewus te maak van die belangrikheid van natuurbewaring – in hierdie geval in een van die eensaamste dele op die planeet.
Die reis strek oor 170 kilometer wat in 12 dae afgelê moet word.