HULDEBLYKE stroom in na die heengaan van voormalige die Hoërskool Nico Malan en provinsiale netbalspeler, Palesa Poyo.
Palesa, wat in 2020 met ’n vergrote hart gediagnoseer is, is op Sondag 10 Oktober by haar huis oorlede weens Covid-19 komplikasies.
Die lang meisie met die pragtige glimlag het in 2016 by die Hoërskool Nico Malan aangesluit vanaf die Hoërskool Burgersdorp en het dadelik goed maats gemaak.
Palesa het ook haarself baie vinnig as uitstekende netbalspelster bewys en het in haar matriekjaar vir Nico Malan se eerste span hoofdoelverdediger gespeel. Sy het in 2017 gematrikuleer.
Palesa het van 2011 tot 2017 provinsiale netbal gespeel en in 2018 en 2019 die o.21 Varsity beker-span behaal vir Nelson Mandela Universiteit en in 2018 vir die Suid-Afrikaanse o.21-span.
In 2020 het Palesa gesondheidsprobleme ontwikkel en is met ’n vergrote hart gediagnoseer. Daar is bepaal dat sy ’n hartoorplanting sou benodig, maar haar gesondheid het in so ’n mate verbeter dat sy van die skenkerlys verwyder is. Tragedie het egter getref toe Palesa vroeër vanjaar COVID-19 opgedoen het en ernstige komplikasies met haar hart en niere ervaar het as gevolg daarvan.
Sy is ná haar ontslag uit die hospitaal tuis deur haar ma versorg en moes drie maal per week dialise ontvang.
Haar voogonderwyseres by Nico Malan, Charné Butt sê, “Sy was ’n aangename kind met die mooiste hart. Sy het altyd ’n goeie woord vir almal gehad. Sy was ’n rolmodel vir baie jong meisies. Sy het haar Christenskap daagliks uitgeleef en die Here geken in alles wat sy doen. Selfs deur die swaarste tye in haar lewe het sy deurgedruk en terugbaklei. Niks kon haar onderkry nie. Haar afsterwe laat ’n groot leemte in baie mense se harte.”
Marianne Venter, netbalafrigter en mentor sê, “Palesa het ’n pragtige verhouding met die Here gehad. Dit sal ek altyd van haar onthou. Sy het ook ’n gawe gehad met woorde en kon dinge op die mooiste manier neerskryf en verwoord. Sy was deel van ons gesin en ons was baie lief vir haar.”
Palesa word oorleef deur haar ma, Sibu Gqetywa, haar stiefpa en twee broers.


