Antoinette Venter is ’n professionele rekenmeester en ook ’n talentvolle skrywer met verskeie publikasies op haar kerfstok.

Foto: Verskaf

Antoinette Venter, ’n professionele rekenmeester, geregistreerde belastingkonsultant en eienaar van Blue Whale Accounting & Tax op Jeffreysbaai, is ook ’n talentvolle skrywer met verskeie publikasies op haar kerfstok.

Die tweede boek in haar Kinders van die gode-reeks het pas by Protea Boekhuis verskyn. Die profesie van die bloedpêrel volg op die baie gewilde Die geheim van die bloedsteen. Die boeke is geskik vir kinders tussen nege en twaalf jaar oud.

“Stories fassineer my van kindsbeen af,” sê Venter. “Dit verskaf my groot vreugde om dit te lees én uit te dink. My verbeelding werk oortyd en dis vir my heerlik om my pennevrug met ander te deel,” sê Venter.

Die geheim van die bloedsteen speel in antieke Rome af toe Zenno, ’n seun van Benoni, daar teen ’n skrikwekkende draak te staan kom om Pompeij van algehele verwoesting te red. Die profesie van die bloedpêrel speel in legendariese Atlantis af toe Cassandra, ’n meisie van Jeffreysbaai, ’n seemonster trotseer om die eiland van ondergang te red. Die stories is propvol humor en vinnige aksie. Beide boeke word ook baie goed deur resensente ontvang. Die boeke kan wel afsonderlik van mekaar gelees word, hoewel daar raakpunte in die teks is.

Lapa Uitgewers het voorheen Venter se Romanza, Oudit op haar hart, gepubliseer, en ook drie novelles getiteld Bie op haar hart, Val vir haar hart en Salf vir haar hart. Van haar kortverhale het al in tydskrifte soos Huisgenoot, Kuier, Landbouweekblad en die destydse Vrouekeur verskyn. Haar skryfwerk pryk ook in die saamgestelde bundels getiteld Hartlam (Tafelberg) en Vrydagaand (Protea Boekhuis). Naas die Kinders van die gode-reeks het Venter ook twee ander kinderboeke getiteld Die tydpolisie en Projek Aarde (Anna Emm) gepubliseer.

Venter hou graag liefde, hoop en humor in haar stories voor en nooi lesers om saam met haar te droom.

Die Kinders van die gode-reeks is aanlyn én by boekhandelaars beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.