SY het gewerk, wyd rondgetrek en getrou en kinders grootgemaak, selfs vir ses jaar in Engeland gewoon; maar toe die gesin na Suid-Afrika terugkeer, het hulle “hier in lieflike Jeffreysbaai” kom nesskop.
Maar deur alles het die joernalistieke hart na woorde bly verlang, en Kwaheri, my geliefde het in 2012 verskyn.
Lucia Prinsloo wie se tweede roman, Vegters, onlangs die rakke getref het, is met al haar verplgtinge nou op die plek waar sy gemaklik voel – tussen boeke en stories. Sy het voorheen as joernalis gewerk onder PG du Plessis wat destyds redakteur van Hoofstad in Pretoria was.
Kwaheri, ‘n outobiografiese roman, is gebore toe Prinsloo se kinders groot was. Tydens haar en haar man Dappie se verblyf in Brittanje het die idee vir Vegters begin vasskop, nadat haar seun in 2006 as valskermsoldaat van die Britse weermag na Afghanistan gestuur is. In sy en sy makkers se soldatestories het ‘n storie gelê en wag om vertel te word.
Vegters is egter nie ‘n oorlogsverhaal nie. Dit speel af in Gamtoosvallei, die Helmandvallei in Afghanistan en die Vallei van ‘n Duisend Heuwels in KwaZula Natal. In dié valleie (te-kenend van beproewing) moet die karakters telkens besluit: gaan ek verloor of wen, slagoffer word of oorlewende? Die lewe is vol veldslae, nie net teen andere en omstandighede nie, maar ook teen jouself.
Daar is altyd ‘n keuse: gaan lê, of staan op en leef.
Hierdie vlam van hoop is ‘n deurlopende tema wat by baie skrywers oral voorkom, soos Stuart Woods, Maureen ODonoghue, Francis Sharkey, Elizabeth Webster, Clare Francis – te veel om te noem. Maar Vegters is Afrikaans en vars en gegrond op realiteit. Die “Wenkbrou”-kenteken op die omslag vertel sy eie storie – dat Lapa ook “boeke uitgee wat die wenkbroue sal laat lig,” aldus die skrywer.
As skrywer lees sy wyd – Heese, PG du Plessis, Matthee, Deon Meyer, Karin Brynard, Khaled Hoeseini, Ronald Balson, Anthony Doerr, Delia Owens, en soveel meer. By uitstek handhaaf sy egter haar eie styl en benadering, en weet sy wat haar eie mense lees.
Boekekenner Louis Esterhuizen se mening oor Vegters: “Hierdie werk is by verre een van die mees indrukwekkende tekste wat ek tot nog toe die voorreg gehad het om te hanteer.” Wees gereed om oorbluf te word, is ‘n resensent se se opsomming.
Prinsloo meen mense moet ophou “slagoffers wees van negatiwiteit. Ons kan veg vir ons toekoms, vriendskap, goeie verhoudings, ons taal. As ek deur my roman vir mense nuwe hoop kan gee, voel ek gelukkig.”
Vegters word uitgegee deur Lapa-uitgewers en is by toonaangewende boekwinkels be-skikbaar teen R295.