VERWARRING heers tans onder sopkombuisbestuurders in St. Francisbaai in die Oos-Kaap nadat hulle opdrag ontvang het om hul deure ingevolge die inperkingsre-gulasies te sluit.
Dié sopkombuise bied die afgelope dekade reeds kos aan behoeftige kinders van die plaaslike Sea Vista-nedersetting en verskaf tans maaltye aan minstens 120 kinders. Vir baie is dit soms hul enigste ete op ’n dag.
Weldoeners wat onderskeidelik twee van die sopkombuise in die gebied bestuur, sê hulle het verlede week ’n SMS ontvang met instruksies, kwansuis van die departement van maatskaplike ontwikkeling, dat hul sopkombuise ingevolge die inperkings-regulasies teen gister gesluit moet wees.
Dié opdrag volg kort nadat owerhede ’n sopkombuis in Vaaldam in Humansdorp, wat in dieselfde Kouga-munisipaliteit geleë is, gesluit het, glo omdat diegene wat daarby betrokke was nie ’n gesonde afstand kon handhaaf nie.
Laura-Leigh Randall, munisipale woordvoerder, het gesê die munisipaliteit is nie by dié besluite betrokke nie.
Ook Gcobani Maswana, woordvoerder van die provinsie se departement van maatskaplike ontwikkeling, kon nie bevestig of hul kantoor opdrag gegee het vir sopkombuise in St. Francisbaai om te sluit nie.
Intussen prut die potte by die sopkombuise voort.
Andrew Vena werk reeds die afgelope 12 jaar by die Shekinah-sopkombuis en sê die sluiting van hul deure sal ’n “lelike” nadraai hê.
“Die sluiting sal ’n geweldige groot uitwerking op die kinders se lewe hê. Sodra ons gestop word, sal die kinders begin rondloop en in die woonbuurte vir kos gaan soek. Dit gaan ’n risiko wees omdat hulle dan meer blootgestel sal wees aan die virus en ander gevare. Ons is verward oor die SMS-boodskap, maar terwyl ons wag, gaan ons voort soos normaal. Ons kan nie bekostig om die kinders in die steek te laat nie,” sê Vena.
By dié sopkombuis word daar ook streng higiëniese protokol gevolg. “Die kinders meld aan met hul maskers. Hulle staan uitmekaar. Dan was hulle hande, die borde wat hulle van die huis af bring word in asynwater gewas en hul hande met ontsmettingsmiddels gespuit. Daarna neem hulle die kos huis toe om daar te eet.”
Ook Hilda Fredericks, wat ’n afsonderlike sopkombuis bestuur, se soppotte het gister gereed gestaan om behoeftige kinders te voed. “Ek het klaar gekook vir die kinders en ek gaan môre weer kook. Waarheen moet die kinders gaan as hulle honger is? Baie mense kry swaar in die gemeenskap; ek kan nie net my rug op hulle draai deur my deure toe te maak nie.”
Sedert die inperking het Fredericks die kinders aangesê om nie almal tegelyk op te daag nie, maar eerder in kleiner groepe van vyf.
“Ek neem die virus ernstig op en die kinders weet hoe hulle moet staan met hul maskers. Maar tot ek nie ’n amptelike brief gesien het nie, sal ons voortgaan.”