DIE polisie van Humansdorp het verlede week by monde van ’n woord- voerder, sersant Majola Nkohli, bevestig dat hulle moontlik ’n deurbraak gemaak het in die soektog na ’n man wat meer as vyf jaar gelede vermis geraak het.
Jonathan “Banana” Laken is op 27 Januarie 2016 as vermis by die Humansdorpse polisie aangegee. Hy was 33 jaar oud ten tyde van sy verdwyning.
Volgens sersant Nkohli het ’n veewagter op menslike oorskot naby Krommedam op 19 Mei vanjaar afgekom.
Nkohli het voorts genoem dat die liggaam erg ontbind was, maar dat die klere wat aan die liggaam gevind was, soortgelyk is aan dié wat die vermiste Laken gedra het.
Volgens gerugte blyk dit dat die oorledene aan ’n boom vasgebind was, maar die polisie kon dit nie bevestig nie omdat die ondersoek tans in ’n baie sensitiewe staduim is.
Laken se vriendin, Annesty Breda, het bevestig dat die polisie haar inge-lig het dat die liggaam wat hulle gekry het, dié van Laken is.
“My groot kopseer is om hom te begrawe, want ek het geen finansies nie,” het Breda aan Kouga Express gesê.
“My oudste kind het gehuil toe ek hom die tyding moes gee van sy pa.
“Ek het nog altyd gehoop dat hy dalk nog lewe – alhoewel ek aanbeweeg het met my lewe,” het sy verder gesê.