TWEE branderplankryers van Jeffreysbaai is Sondag in hul duikpakke en met hul branderplanke by ’n polisievangwa ingelaai nadat hulle ten tyde van die staat van inperking in die branders gaan baljaar het.
Die twee het op die gewilde Supertubes-strand die see ingevaar. Nadat lede van die publiek hulle verkla het, het die polisie en lede van Smhart Security die twee ingewag.
’n Video wat op sosiale media gedeel is, wys hoe die branderplankryers na ’n polisievangwa begelei word.
Carl Trahms, eienaar van Smhart Security in Jeffreysbaai, sê inwoners het hulle in kennis gestel van die branderplankryers, waarna Smhart die Nasionale Seereddingsinstituut se hulp ingeroep het om hulle uit die water te kry.
Na verneem word, is die branderplankryers elkeen ’n boete van R5 000 opgelê.
Horatio Hendricks, burgemeester van die Kouga-munisipaliteit, het die optrede teen die branderplankryers verwelkom en sy dank teenoor die owerhede vir hul hoë sigbaarheid uitgespreek. “Dit was verblydend om te sien dat die polisie Sondag baie meer sigbaar in die gemeenskappe was en hul rol gedurende die staat van inperking ernstig opneem.”
Hy het ook die munisipaliteit se wetstoepassers, die veiligheidsmaatskappy en die verkeersowerhede vir hul rol die afgelope paar dae bedank en opnuut die gemeenskap gemaan om aan die regulasies van die staat van inperking gehoor te gee.
“As ons wil hê dat die staat van inperking doeltreffend moet wees, moet elkeen van ons die regulasies nakom. Daar is ongelukkig ’n persepsie by jongmense dat, indien hulle sterk en gesond is, hulle nie ernstig siek sal word as hulle die virus kry nie en dat hulle met hul gewone lewe kan voortgaan.”
Hy het gesê die gemeenskap moet in ag neem dat al het sommige mense ’n beter kans op oorlewing, kan hulle die virus oordra aan ander weerlose mense wie se gestel nie noodwendig sterk genoeg is om dit te oorleef nie.
“Bly asseblief tuis en hou by die regulasies.
“Die virus beweeg nie; mense beweeg. Hoe meer gehoorsaam ons almal nou is, hoe gouer sal ons weer die buitemuurse dinge kan doen waarvoor ons lief is.”
Trahms het gesê ’n vrou is ook Saterdag op die kusdorp aangekeer nadat sy reeds die vorige dag gewaarsku is om nie met haar honde op die strand te gaan stap nie.
“Ons het uitgegaan na die vrou op die strand en die polisie ontbied. Want daar is geen manier dat ons kan toelaat dat mense elke dag rondloop nie.”