DIE strategiebeplanningsessie vroeër vandeesweek tussen die Kouga-Verkeersdepartement met Fountains Mall op Jeffreysbaai kan moontlik ’n oplossing bied vir toenemende wetteloosheid en swak maniere van motoriste waaroor inwoners kla.
Op openbare media word openlik gemor en selfs gedreig, omdat toestande in die parkeerarea al meer agteruitgaan. Volgens sommige kopers begin hulle hul lus verloor om die koopsentrum te besoek, omdat hulle reken daar word niks aan die saak gedoen nie.
Een klag is dat motoriste steeds onwettig parkeer. Areas wat vir rolstoelgebruikers en senior burgers gereserveer is, word vrylik deur ander bestuurders misbruik. As hulle daaroor aangespreek word, vloek hulle, wys obsene tekens, die rassekaart word gespeel, en selfs rolstoelgebruikers wat daaroor kla, word beledig.
Vele bestuurders ry nie padlangs nie, maar jaag wild oor parkeerruimtes om gouer by hul bestemming of ’n parkeerplek uit te kom. Mense kla op sosiale media dat taxibestuurders verkeerd om die sirkels ry. En as daar ’n geleentheid is om ’n stopteken te ignoreer, word die kans aangegryp. Daarby word flikkerligte baie selde by sirkels gebruik.
Mense vlieg mekaar in die hare oor parkeerruimtes, en sommige selfaangestelde vrederegters neem foto´s van mense wat toestemming gevra het om op ’n plek vir rolstoelgebruikers te stop ten einde iemand op krukke naby die gebou te kry.
Algemene onverdraagsaamheid en swak maniere is skynbaar party bestuurders se gewone optrede.
Sommige Facebook-kommentators is aggressief met hul kritiek: “Geen wetstoepassing – soos oral . . . Boikot Fountains Mall en kyk of hul kan oorleef met slegs roekelose taxi-bestuurders as klante . . . breindood motoriste wat rolstoelparkering benodig . . . Ek was ’n jaar laas by die mall, en ek mis niks. Daar is genoeg ander winkels in Jeffreysbaai.”
Andere voel weer ’n boikot sal onskuldige winkeleienaars benadeel. Die meeste is dit egter eens dat parkeerreëls deeglik en konsekwent toegepas moet word. So nie, sal ´n massa-optog na die sentrum gereël word – maar nie om inkopies te doen nie.
Fountains Mall algemene bestuurder Sonja Allsop sê na ’n dringende vergadering met die Kouga-verkeersdepartement, plaaslike polisie en die Humansdorp taxi-vereniging, sal spoedbulte en afgebakende taxi-gebiede aangebring word om die verkeersvloei te beheer.
“Die verkeersdepartement het ook hul hulp aangebied om die verskillende beoogde aksies te implementeer,” sê Allsop.