Bernadette Swartz (tweede van links) van Oasis FM in Jeffreysbaai het die week ‘n onderhoud gevoer met weldoener Mike Minnie (vierde van links) wat die projek geloots het om vir Caltex-petroljoggie Scott Botanile (tweede van regs) ‘n kunsbeen te kry. By hulle is André Swartz, Karen Swanepoel en Marinda Visser-Hough. Foto:VERSKAF


BERNADETTE Swartz van Oasis FM in Jeffreysbaai het die week ‘n onderhoud gevoer met weldoener Mike Minnie wat die projek geloots het om vir Caltex-petroljoggie Scott Botanile ‘n kunsbeen te kry.

Scott het tot onlangs net op krukke sy werk gedoen.

By die radiostasie was Mike saam met Karen Swanepoel, beide lede van Unbroken Amputees Foundation, wat die pas en maak van Scott se prostese befonds.

Ortotis van Port Elizabeth Ruan Lundt het die paswerk gedoen en ‘n afdruk van Scott se been gemaak, waarna Karen dit na Pretoria geneem het waar die tydelike holte van die kunsledemaat gemaak is.

Scott, wat saamgesels het, het sy been verloor nadat hy met inflammasie gediagnoseer is, en medici voorgestel het dat amputasie die enigste uitweg is.

Mike het tydens ‘n ander projek van hom gehoor, en dadelik aan die werk gespring om Scott se lewe te verander. Hy het selfs vir Kouga-raadslid Daniël Benson “uitgedaag” om met sakemense van die dorp by die saak betrokke te raak.

Maar dit was Unbroken Amputees wat uitgeblink het.

Mike en Karen, beide op kunsledemate, is dit eens dat onafhanklikheid aan elkeen gebied moet word. “Iemand, soos Scott, wat ’n ledemaat verloor het, moet bemagtig word, want dit verg vasbyt om sonder ‘n ledemaat te leef.”

Scott glimlag breed, maar is nog effe oorweldig deur die veranderinge.

You need to be Logged In to leave a comment.