IN ’n instapkluis, binne-in ’n blikkie in ’n banksakkie, is die trouring opgespoor wat ’n gemeente in Jeffreysbaai
18 jaar gelede aan die gons gehad het.
Dié trouring wat tussen die geld in die NG kerk se kollektebord was, was tot onlangs nog ’n raaisel – Tot Jacques du Plessis op Facebook gebieg en gesê het dit was sy trouring wat hy saam met sy geld in die kollektebord gesit het om sy egskeiding te verwerk.
Ds. Evert de Kock het verlede week gesê hy onthou die ringraaisel nog goed, maar hulle kon die ring nie dadelik by die kerk opspoor nie. Hy het dieselfde dag nog onderneem om die ring op te spoor voordat hy in Januarie aftree.
Die afgelope week het De Kock sy woord gestand gedoen.
“Die ring was altyd hier in veilige bewa-ring in die kluis,” sê De Kock.
Nadat De Kock die gemeente destyds van die preekstoel af ingelig het oor die ring wat tussen die munte en note beland het – met die idee dat die ring dalk van iemand se vinger afgeglip het – is die ring in die kerk se kluis gebêre.
Die kerkbestuur het nooit die briefie ge-sien wat Du Plessis later in die kollektebord gesit het om die situasie te verduidelik nie.
Intussen het die kerkkantoor geskuif, met ’n groter kluis, waarin die ring in ’n blikkie saam verhuis het.
’n Soektog na die ring in die twee instapkluise was suksesvol en gister het Du Plessis en De Kock mekaar by die kerkkantoor ontmoet om oor die trouring te praat.
“Met alle respek, ek het nie gedink die ring sal ná al die jare nog hier wees nie,” skerts Du Plessis voordat De Kock hom die ring gee.
Du Plessis haal die ring uit die banksakkie, steek dit aan sy vinger en kyk ’n sekonde daarna voordat hy dit met ’n glimlag afhaal, vir De Kock teruggee en sê: “Ek het die ring lankal vir die kerk gegee. Die hele doel van die ring was daai tyd ook om maar net die geld vir iemand te gee wat dit nodig het.”
De Kock lag: “Ek onthou die mense het baie vrae gehad oor die ring, en hier sit Jacques, die ou bogger.”
Die ring sal nou aan die kerk se finansiële departement oorhandig word wat dit sal verkoop en op Du Plessis se versoek sal die geld aan behoeftige mense geskenk word.
“Dit het 18 jaar geneem om uit te vind aan wie die ring behoort, maar alles ge-beur op die regte tyd,” sê De Kock.