EERS sien jy die asemrowende uitsig – ’n see van rooi met groen en wit spatsels.
Dan ruik jy dit: heuningblommetjies, poinsettias, madeliefies, fynbos en sterjasmyn.
Jy hoor die voëls en die wind wat saggies in die blare roer. En as jy gelukkig genoeg is, sien jy ’n bokkie of ystervark. Of selfs ’n hasie of twee.
Dié lieflike tuin in Silvertree-weg in Wavecrest, Jeffreysbaai is ’n vreugde vir almal wat daar verbystap of -ry.
Maar dit was eens ’n woesterny oorgroei met indringerplante en lang gras – ’n broeiplek vir slange en muise.
Toe Soutie Strydom (81) en sy vrou, Anna (78), 17 jaar gelede hul huis gekoop het, wat aan die oop stuk grond grens, het hy dadelik geweet dié oorgroeide erf kort bome en blomme – en baie daarvan.
Strydom, ’n oud-onderwyser, het dadelik die oop stuk grond van ’n kant af begin skoonmaak en verskeie bome, struike en blomme begin plant.
Stadig maar seker het die tuin begin groei.
Vandag, amper twee dekades later, spog die tuin met ongeveer 200 bome: insluitend nagenoeg 80 baldadige rooi poinsettias en 20 vyebome. Daar is ook talle aalwyne – alles vanaf ’n nabygeleë plaas.
En ’n boot.
Maar dit is nie sommer enige boot nie, sê Strydom. “Dié skuit was in sy gloriedae deur die polisie in Port Elizabeth op see gebruik, waarna dit as ’n plaaslike vissersboot inge-span is.”
Verder is daar verskeie inspirerende boodskappe vir stappers: “Life is fragile, handle it with care” en “Elke probleem het ’n vervaldatum”.
Strydom, wat sélf alles doen – van bome plant tot gras sny en beddings aanlê – werk daagliks van vroegoggend tot laat in sy tuin. Behalwe op Sondae. Daar is darem tyd vir ’n koppie tee en ’n vinnige middagslapie.
En hy geniet elke oomblik. Al het hy verlede jaar Desember sy enkel gebreek.
“Ek vind ontvlugting in tuinmaak,” sê hy. “Dit is net jy en jou Skepper.
“’n Blom gaan nie vir homself oop nie, maar sodat jy God in hom kan sien.”
Om te verseker hy vergeet nie om iets na te laat nie, maak hy elke aand ’n lysie van al sy tuin-take. Aan die einde van die dag trek hy al die voltooide take dood, en begin ’n nuwe lys.
Strydom se tuin is ’n skatkis wat besoekers bietjie vir bietjie kan ontdek voordat hulle in ’n koel hoekie van die tuin ontspan en hierdie stukkie paradys behoorlik indrink.