Om vrouemaand te vier, gesels Express elke week met merkwaardige vroue in ons gemeenskap. Joané Azenha het by Bernadette Swartz, plaaslike radio-omroeper asook sakevrou, gaan inloer.
Sy het in die jaar 2000 al haar eerste besigheid, Phenomenon Events and Promotions, in die Paarl begin waar sy destyds gewoon het.
Deur dié besigheid het sy ook haar man, André, ontmoet toe sy vir die radiostasie waar hy gewerk het, ’n funksie gereël het. Die paartjie is in 2005 getroud waarna hulle na Pretoria verhuis het, waar André ’n pos by Radio Kansel aanvaar het.
In 2007 het Bernadette vir die eerste keer haar buiging op die radio gemaak as ’n vry-skutomroeper vir RSG. Sy het die Sondagoggendprogram, Sondag Aktueel, uitgesaai.
Sy het egter nog altyd die begeerte gehad om vir haarself te werk, en sodoende ook haar gemeenskap op te hef.
Nadat hulle na Graaff-Reinet en uiteinde-lik na Jeffreysbaai gelei is, het hulle die besluit geneem om in 2013 ’n Christelike radiostasie te begin, spesifiek met die doel om die “lewende water” (letterlik en figuurlik) in droë gebiede te laat vloei.
Deur hierdie stasie, OASIS FM, bedien hulle die plaaslike gemeenskap deur positiewe, Christelike inhoud uit te saai. Hulle doen talle onderhoude met plaaslike entrepreneurs en weldoeners, liefdadigheidsprojekte en besighede.
So het Bernadette haarself gevestig as ’n steunpilaar in die gemeenskap.
In 2015 het sy besluit om, na aanleiding van vele gebede en ’n profetiese woord, haar klerereeks, Be Original te begin. Dit het intussen uitgebrei na dekor-items, oorbelle en handsakke.
Sy vervaardig gemaklike, lekkerdra klere met vrolike Afrika-motiewe, wat enige uitrusting ophelder.
Tydens die aanvang van die COVID-19 pandemie het sy besluit om haar besigheid aanlyn te neem sodat sy haar buitelandse klandisie kan aanhou bedien, omdat hulle ’n groot deel van haar mark vorm.
Haar webwinkel, www.beoriginal.co.za, het daardeur tot stand gekom.
Deesdae is haar doel om vroue in die gemeenskap te bemagtig deur vir hulle werks-winkels aan te bied om van haar produkte te vervaardig, en sodoende mense wat sukkel om werk te kry, te bemagtig om hul eie inkomste te verdien.
Volgens Swartz gaan haar eerste werks-winkel in samewerking met One Village binne die volgende week geskied, en die dames wat opleiding ontvang sal dan verantwoordelik wees om een produk van haar reeks te vervaardig.
“My hart was nog altyd om mense rondom my te bemagtig en bemoedig, maar ek was nie altyd in die posisie om dit te doen nie. Deesdae is ek so besig by OASIS FM dat ek nie baie tyd het om self items te vervaardig vir my winkel nie, en dit het my in staat ge-stel om werk te skep vir ander.”