Rehan Vosloo vang reuse-geelvintuna

REHAN Vosloo (34) van Jeffreysbaai beskryf sy ervaring verlede Woensdag as “die ondervinding van ’n leeftyd” toe hy ’n reuse-geelvin­tuna die middag by St. Francisbaai uit die water getrek het.


REHAN Vosloo (34) van Jeffreysbaai beskryf sy ervaring verlede Woensdag as “die ondervinding van ’n leeftyd” toe hy ’n reuse-geelvin­tuna die middag by St. Francisbaai uit die water getrek het.

“Dit het my so net oor die twee uur geneem om hom in te katrol,” vertel Vosloo. “Hy het so teen 13:30 gebyt.”

Die vis weeg 101,3kg, volgens Vosloo ’n skaars ding in die St. Francisbaai-omgewing.

“Gewoonlik is die groot visse meer na die Kaap se kant toe. Dit is baie min dat ons regtig groot visse hier rond vang.”

Vosloo het in die omgewing grootgeword en hengel sy lewe lank al.

Sy pa het ook vir 18 jaar visgevang.

“Ek vang seker nou al so vier jaar spesifiek tuna, wat ons met kunsmatige aas lok.”

Vosloo was saam met twee vriende, Ian Burrel en At van Tilburg, op Burrel se boot, ’n 8,4m Buttcat. Hulle was so 30 seemyl van die land af toe Vosloo die reuse-vis inkatrol.

“Ek moes hom op my eie inkatrol. Daar word nie beurte gemaak nie,” sê Vosloo.

“Gelukkig kon ek darem van tyd tot tyd rus omdat ek ’n harnas om my lyf gehad het waaraan ek myself kon stut.”

Toe hulle met die vis aan wal kom, het die oë omtrent gerek.

“Die mense was baie verbaas. Op dieselfde dag het iemand anders daar aangekom met ’n vis van 92,4kg. Oor die Paasnaweek het Ian ’n vis van 90,6kg daar gevang,” sê Vosloo.

“Ons vermoed my vis is die eerste van oor die 100kg wat in die Oos-Kaap gevang is. Ons is nog besig om die vorms in te vul om dit moontlik te laat klassifiseer as ’n rekordvis.”

Daar is reeds filette gemaak van die vis, en die filette is aan vriende en familie uitge-deel.

“ ’n Mens kan nooit so ’n groot vis alleen opeet nie,” sê Vosloo. “Hulle is gewoonlik baie lekker.

You need to be Logged In to leave a comment.