'n Man met renosters.
Justin Terblanche saam met van die renosters. Credit: Willemien Green

‘n Man met ‘n onblusbare passie vir renosters, Justin Terblanche, wy sy lewe aan die beskerming van sy drie ‘meisies’ en een ‘seun’. Hy het al sowat 18 maande saam met die drie renoster koeie in die veld geleef (voordat die jong bulletjie bygekom het.).

Hy het hulle maniere bestudeer en so waardevolle navorsing op grondvlak gedoen en gedokumenteer. Hy het hulle manier van speel en hardloop bestudeer en gesien hulle het persoonlikhede, en is altyd in die geselskap van zebras. Die renosters het aan hom gewoond geraak, ken sy reuk en reageer op sy fluit. Hulle is al van 2020 af onder sy sorg.

“Ek was vroeër betrokke by die teen-stropingsspan, maar kon nooit naby hulle kom nie. En ek wou. Ek wou hulle beskerm. Ek het hulle lief met my lewe!”

As ‘n gas van St Francis Toerisme se mediatoer, het ons onder meer ‘n besoek gebring aan die Kouga Rhino Sanctuary by Lombardini.

Ons het eers ‘n wildrit meegemaak en talle diere gesien. Een van die hoogtepunte was die groep van sewe kameelperde wat bymekaar gestaan het. Die veld was groen en die diere in uitmuntende toestand. Maar niks oortref die belewenis by die renosterkamp nie. Ons kon nie die vier oer-diere sien nie, en Justin het gesê hy gaan hulle net gou ‘roep’. Ek het suutjies gedink: Gmf, my hond kom nie eers as ek haar roep nie…

Sowaar! Daar op die horison kom Justin doodluiters aangestap met die vier renosters in ‘n ry op sy hakke! Ons moes tjoepstil wees. Hy het ‘n ent voor die een renoster gaan sit. Sy het tot by hom gekom sodat hy die basis van haar horing kon vryf, en so vertroue inboesem. By die draadheining voor ons, het hy hulle bederf met lusern – elkeen met sy eie hopie.

“Amanda weeg 1.9 ton, die twee onafskeidbare vriendinne Tiffany en Britney weeg 1.7 ton elk, en die jong bul Herbie is maar ses jaar oud en gaan nog dubbel sy gewig van 1.6 ton word,” vertel Justin trots.

“Die diere kan tot 45 km/h hardloop en sal jou met die nek oplig en die lug gooi, soos wat al met my gebeur het! Hulle kan nie goed sien nie, maar hulle gehoor- en reuksintuie is baie skerp. Mens kan hulle gemoedstoestand aan die posisie van die stert lees: as die stert hang is hulle gewoonlik rustig; as die dit opwaarts in ‘n sirkelvorm is, is hulle nuuskierig; maar as die stert in die lug opstaan en beweeg – moet jy gou spore maak voor die aggressie!”

Wit renosters soos dié, het ‘n breë lip en eet meestal grasse, en kan 40-50 jaar lank leef.

Justin word sommer hartseer as hy praat van die stroping van die diere se horings. Hy het skedels gewys van renosters wat vermink is deur stropers net om die horings te bekom. “Die horings is niks anders as keratien nie – soortgelyk aan ons naels. Dit het absoluut geen medisinale waarde nie! Hulle word sonder ‘n horing gebore en dit groei geleidelik tot sowat twee meter lank.”

Die toevlugsoord het 24-uur sekuriteit om te waak teen stropers.

Justin sê hy is gelukkig en tevrede met die bydrae wat hy maak, en om die diere so in die natuur te sien. “Dis nodig om al die inligting aan die wêreld beskikbaar te stel!”

Bespreek gerus ‘n wildrit by die Kouga Rhino Sanctuary by Lombardini vir ‘n onvergeetlike ervaring.

Justin Terblanche kom aangestap met die vier renosters op sy hakke, nadat hy hulle gaan roep het.
Credit: Willemien Green

Justin Terblanche en die renosters. Credit: Willemien Green
Justin wys ‘n skedel van ‘n renoster wat gestroop en vermink is vir sy horing. Credit: Willemien Green

You need to be Logged In to leave a comment.