’n Brand het Maandagaand ’n restaurant by die Port St. Francis-hawe in puin gelê en nog twee kantore beskadig.
Die brand het glo omstreeks 23:00 by die Indigo Moon-restaurant ontstaan.
Johan Hartwig (61), ’n inwoner van die gewilde Oos-Kaapse vakansiedorp wat sowat 400 mvan die hawe woon, sê toe hy op die to-neel aankom, was die restaurant reeds in ligte laaie.
“Die brand het die restaurant verwoes. Al waaraan ek toe kon dink, is om die kantore te probeer red waar my vrou (Martie) werk,” sê Hartwig.
Die Balobi-vismaatskappy se kantore is sowat 10m van die restaurant in dieselfde gebou by die hawe geleë.
“Die brand het in die dak versprei en ek het geweet as ons nie dadelik probeer keer nie, sal die vlamme by Balobi se kantore ingaan.”
Hartwig en ’n ou skoolvriend wat by hom gekuier het, het ’n brandslang in die gang gegryp en die vlamme probeer blus.
Hy sê brandbestryders het sowat ’n halfuur later opgedaag. Teen dié tyd was verskeie inwoners en sakelui van die dorp reeds besig om teen die vlamme te veg.
“Natuurlik is daar nou baie waterskade in die kantore, maar ten minste het dit nie afgebrand nie.”
Johan Barnard, Port St. Francis se hawe-meester, sê geen hawestruktuur is in die brand beskadig nie en die Nasionale Seereddingsinstituut se kantoor is ook ongeskonde.
Hy sê benewens die afgebrande restaurant is daar skade aan Balobi se kantore en ’n koffiewinkel.
“Ons is baie dankbaar vir elkeen se hulp en ook dat die vlamme nie verder versprei het nie.”
Hartwig sê dit is net God se genade dat Maandagaand se brand nie nog ander brande ook veroorsaak het nie.
“Die roet het tot by my huis gewaai. Hier is baie indringerbome wat binne ’n oogwink met ’n kooltjie aan die brand kan slaan. Ons is geneig om te dink ons kan alles op ons eie doen, maar dit is net genade,” sê Hartwig.
Laura-Leigh Randall, woordvoerder van die Kouga-munisipaliteit, sê die brandweerdienste het omstreeks 23:30 op die brand gereageer. Die brand is om 01:30 geblus, waarna brandbestryders die gebou gemonitor het.
Hoewel bespiegel word dat die brand weens beurtkrag ontstaan het, was brandbestryders Dinsdagoggend steeds op die toneel om die oorsaak van die brand te ondersoek.