SKOON, skoner . . . Jeffreysbaai!
Jeffreysbaai-inwoners Charles Bakker en Ronelle Lötter, die nuwe dryfkrag agter die nie-winsgewende organisasie Dorp van Drome (Village of Dreams), beywer hulle om Jeffreysbaai blink te poets.
Randstene in St. Francisstraat en verskeie systrate spog reeds met ’n nuwe laag wit en geel verf. Strate is skoongevee en die park in Nautilusstraat is skoongemaak.
Dít alles in slegs vyf weke.
Volgens Bakker hoop hulle dat alle inwoners – oud en jonk – betrokke raak by Dorp van Drome, wat nóú saamwerk met Kouga-munisipaliteit, .
“As inwoners hulle dorp skoonmaak en verfraai, sal dit oorspoel na buurdorpe, wat dan weer toeriste sal aanmoedig om Kouga te besoek,” sê Bakker.
“As jou dorp nie mooi en netjies lyk nie, sal niemand dit wil besoek nie.
“Jeffreysbaai behoort aan sy inwoners, en julle is die mense wat verandering moet bewerkstellig. As elkeen voor sy eie deur skoonmaak, sal dit al baie help.”
Planne sluit verder die restourasie van die boot in Nautilusstraat in, asook die verf van die muur in Tokyo Sexwale en die opknapping van die speelpark in Pellsrus.
Die gebied rondom die plaaslike poskantoor en biblioteek gaan ook binnekort ’n nuwe blaadjie omslaan.
Hulle kan egter nie die dorp sonder die hulp van die gemeenskap opruim nie. Hulle benodig onder meer donasies van verf, verfkwaste, tuingereedskap, besems en plante.
Finansiële skenkings kan gemaak word aan Dorp van Drome, Nedbank, rekeningnommer 2004807830.
“Ons bemoedig alle sakeondernemings, toegewyde amptenare en energieke inwoners om proaktief betrokke te raak om van Jeffreysbaai ’n dorp te maak waarop almal trots kan wees,” sê Bakker.
Die dromers kom elke Donderdag vanaf 08:30 tot 12:00 bymekaar. Vrywilligers moet hulle eie gereedskap, sonblok, hoed en water bring.
Die Dorp van Drome is op 4 Julie 2012 gestig en spog tans met 25 voltydse vrywilligers.
Vir meer inligting, skakel Lötter by 081 782 7858 of Bakker by 060 526 1086. Besoek die Jeffreysbaai Dorp van Drome Facebook-blad by https://www.facebook.com/JeffreysbaaiDroom/.