Rommel laat ‘mulas’ inrol

Op Jeffreysbaai is rommel vir kleinmense fietse, skoene, skryfbehoeftes, tandepasta en kos werd, het monique bassongevindtoe sy op ’n Maandagmiddag by die Jeffreysbaai Rotariërs se herwinningsprojek in die Sunshine-dienssentrum in Pellsrus gaan inloe


BY die ligbruin huis in Pellsrus, met sy wapperende wit-polkakol rooi en groen vlaggies, staan ’n ry kinders met hul boepens-sakke vol herwinbare rommel.

Selfs kruiwaens en winkeltrollies word ingespan om dié waardevolle vrag te karwei. Soms kilometers ver.

Oorkant die pad loop ’n seun soek-soek tussen die bossies, hy buk kort-kort om iets op te tel en in ’n groot wit sak te gooi. ’n Leë koeldrankbottel, ingeduikte blikkies en selfs ’n paar tydskrifte.

Dan gaan staan hy in die reeds lang ry.

’n Opgewekte meisie in wit-en- pienk koei-slaapklere, swartsak oor die skouer, skuif agter hom in.

Nóg kinders volg.

Sommige met helder geel en rooi plastieksakke oor die kop teen die broodnodige reën wat neersif.

Hulle wag almal geduldig, want hier, by die JBay Recycling Project, kry elke kind ’n beurt.

Of jy nou voor of heel agter in die ry staan.

Herwinningsprojek: Hoe werk dit

Binne dié “groen” Rotariër-projek – wat ten doel het om die plaaslike kinders te help besef daar is iets in hul omgewing waarmee hulle self hul lewensomstandighede kan verbeter – bring Pellsrus se kinders elke Maandag herwinbare rommel na die Sunshine-dienssentrum.

Kelly Tommelein staan voor in die ry wat elke minuut langer word – gereed om haar twee swartsakke en drie kleiner plastieksakke vol rommel te laat weeg.

Maar eers moet sy haar rommel-kaart by een van die vrywilligers agter die lang ystertafel kry. Dié kaart bevat haar unieke rommelnommer, asook aantal mula-punte (die “rommelrande” wat kinders met hul herwinbare rommel verdien).

Hierna word haar rommel geweeg en haar mulas uitgewerk wat haar koopkrag in die mula-winkel bepaal. Dié punte word op haar kaart aangeteken.

Hoe swaarder die skaal trek, hoe meer mula-punte verdien hulle. Maar om die nuwe elektroniese skaal behoorlik te laat kreun, verg baie optelwerk.

Twee kilogram papier of glas is een mula-punt werd, terwyl 1kg-blikkies kinders een mula-punt in die sak bring. Een kilogram plastiek besorg jong herwinners twee punte.

Daar is baie om van te kies, selfs noodsaaklike dinge soos toiletpa-pier, seep, tandepasta, tandeborsels en skryfbehoeftes, maar die fietse en spoggerige nuwe sokkerstewels . . . dit bly die wonderlikste.

Baie mulas is hiervoor nodig: 30 mulas vir ’n paar sokkerstewels en tot 225 mulas vir ’n seunsfiets.

Op Maandag is sewe sokkerste-wels binne die eerste uur verkoop.

“Baie van die kinders bring week na week hul rommel in, en spaar hul mulas vir die groot dag wanneer daar genoeg vir ’n fiets is,” sê projekkoördineerder, Tanja Lategan.

“Ons was baie opgewonde toe klein Abraham Tarentaal dit verlede jaar reggekry het om ’n lieflike, rooi tweedehandse fiets te koop. Dít na hy meer as 100 mulas gespaar het en 24 EcoBricks op een Maandag na die projek gebring het.

“Hy het die vorige jaar ook vir ’n fiets probeer spaar, maar die koop-lus het hom oorrompel. Dit was dus werklik besonder toe sy tweede poging ’n sukses was.”

Verder is daar ook skoene, skoolklere, groente, tee, melk, rys, poppe en balle.

Dit kom alles van skenkings.

Rommelstatus

“Sedert die projek in Januarie 2011 begin het, is 6 950 leerders geregistreer,” sê Lategan. “In dié tydperk het die kinders al gesamentlik 667 ton herwinbare vullis ingebring.”

Volgens Lategan het 2019 op ’n goeie noot geëindig: 6 229 individuele besoeke, ’n gemiddeld van 175 kinders per handelsdag, 37 handelsdae en 53.5 ton rommel.

Meer inligting

Vir meer inligting, skakel Late-gan by 084 684 6771. Stuur ’n epos na jbayrecyclingproject@gmail.com.

Besoek die JBay Recycling Project by wvjbay@mweb.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.