WESTON, ’n informele woon- buurt net buite Hankey, word by die dag vuiler.
Bekommerde inwoners, wat gereeld hul misnoeë oor die situasie uitspreek, sê hulle “verdrink” in vullis en dat dié pro-bleem ’n groot gesondheidsge-vaar skep.
Reuse rommelhope, sigbaar van die R330 tussen Humansdorp en Hankey, ‘stroom’ reeds berg-af, en onwettige stortingsterreine neem ook toe.
Swartsakke, kartonhouers, blikke, bottels en huishoudelike afval word gereeld daar gestort. Selfs persoonlike dokumente lê tussen die bosse rond. Voeg daarby bourommel, verrotte boomtakke en tuinvullis.
’n Weston-inwoner, wat ano-niem wil bly, beskryf die gebied as “haglik”.
Volgens hom beland die rommel dikwels in stormwaterdreine, wat dit verstop en daartoe lei dat die dreine oorpspoel as dit reën. En as die wind waai, is die omgewing ’n morsige gesig.
“Die ander probleem is dat ’n mens vandag op ’n sekere plek skoonmaak, maar dan is dit die volgende dag net weer met rommel besaai,” sê hy.
“Klein kinders speel en krap tussen die rommel rond. Wie weet watter siektes hulle als kan optel? Dit hou beslis ’n gesondheidsgevaar in.”
Nóg ’n inwonder sê: “Bene-wens die feit dat die rommel oral rondwaai, bring dit ook rotte, slange en stank na die gebied.
“Hulle gee nie regtig vir ons mense om nie. Iets sal drasties moet gebeur, want ons kan nie aanhou om in sulke haglike omstandighede te woon nie.”
Volgens inwoners is die rede hiervoor dat Kouga-munisipaliteit maande laas hier skoongemaak het.
Dit is egter nie net inwoners wat oor die toenemende rommel mor nie.
“Die vullis langs die pad is onooglik,” sê ’n ontstoke Shelley Rautenbach wat gereeld dié pad gebruik. “Die rommelstorting is besig om handuit te ruk. Oral word daar vullis neergestort en daar word net niks daaromtrent gedoen nie – en dié gebied, met al sy aalwyne en plantlewe, kan so ’n mooi gesig wees.”
Sy versoek nou dat die munisipaliteit daadwerklik optree.
“Maak die gebied skoon, en hou dit skoon. Plaas genoeg munisipale vullishouers uit en verwyder dit ten minste een keer ’n week,” sê sy.
“En rehabiliteer die plantlewe: van aalwyne tot spekbome.”
Volgens haar verdien geen persoon om in sulke vuil omstandighede te leef nie.
Volgens Kouga portefeulje raadslid vir gemeenskapsdienste, Daniel Benson, is rommelstrooiing en onwettige storting `n uitdaging regoor Kouga en kan slegs in vennoot-skap met die gemeenskap opgelos word.
“Bekende stortingspunte word gereeld skoongemaak, maar is ongelukkig weer gou vol vullis,” sê hy.
Volgens Benson is verskeie opvoedkundige- en bewusmakingsveldtogte einde Februarie in Hankey en Weston van stapel gestuur om dié probleem aan te spreek. Die veldtog is ook gebruik om inwoners te waarsku dat hulle beboet kan word indien hulle onwettig rommel stort.
“Ons het almal ’n verantwoordelikheid om ons omgewing skoon te hou,” sê Benson. “Ek moedig alle inwoners aan om ons te help om Kouga die skoonste munisipaliteit in Suid-Afrika te maak.”