ROTTE, sommige glo groter as klein katte, vind gereeld hul pad tot in woonhuise in Pellsrus, Jeffreysbaai.
Dié bosse groei tot teenaan die aangrensende huis en is bykans dakhoogte.
“Die rotte baljaar te lekker hier in die oorgroeide bosse en rommel reg langs ons huis, en nou is dié peste tot in my huis in,” sê ’n ontstoke inwoner wat al reeds 10 jaar lank erg omgekrap oor die beboste erf is.
Volgens haar het ’n uitgevrete rot op ’n dag tot in haar huis gekom – so asof hy daar hoort.
Op ’n ander keer het ’n rot hom luilekker by haar voordeur gemaklik gemaak.
“Ons het noodgedwonge dik stompe voor al ons deure geplaas om die ongenooide gaste buite te hou,” sê sy.
Sy glo dié erf is die ideale skuilplek vir misdadigers. “Daar is genoeg wilde bosse waar misdadigers kan wegkruip.
“Verder draai leerders gereeld daar stokkies.
“Én die rommel: daar is gedurig ’n onaangename reuk in die lug.”
Volgens die inwoner het sy die afgelope tien jaar al verskeie briewe aan die Kouga-munisipaliteit gestuur, sonder enige sukses.
Sy is nie die enigste wat kla oor die oorgroeide erf in hul straat nie.
Volgens nóg ’n inwoner is dit nie nét rotte wat ’n pes raak nie, maar lok die bosse ook slange en muise na die gebied.
“Hier was nooit ’n probleem met rotte, muise en slange nie. Die ‘mini-oerwoud’ wat by die dag groei, lok alles wat sleg is,” sê hy.
Mosselsingel-inwoners eis nou daadwerklike optrede van die munisipaliteit.
Volgens Kouga Portefeulje Raadslids vir Gemeenskapsdienste, Da-niel Benson, het die munisipaliteit se inbelsentrum nie enige klagtes van oorgroeide erwe in Mossel- singel op rekord nie.
“Ons nooi die klaer om dit by die inbelsentrum aan te meld, sodat ons kan opvolg. Die nommer is 042 200 2200,” sê Benson.