C-PLEK se mense is siek vir die ondraaglike en walglike reuk van riool wat té gereeld hulle neuse en lewens versuur.
Francois Pretorius van C-Plek op Jeffreysbaai het die Kouga Express genader oor die swaar reukspul van rou riool in hulle gebied.
Op ’n sosiale platform vra hy hoe lank moet hulle nog sit met die besmette lug wat mens en dier in die omgewing besoedel en se lewensgehalte aantas weens die riool wat by die pompstasie in Koraalstraat oorloop.
Hy voel so sterk hieroor dat hy selfs voorstel dat “die menseregtekomissie, openbare beskerming en die pers” moet ingryp. “Ons kan nie meer so leef nie.”
Pretorius vertel dat die SABC so vyf jaar gelede ’n nuusberig oor dié pompstasie gebeeldsend het. ’n Tyd daarna is twee nuwe pompe geïnstalleer, maar hy meen “dit het daarna net stroomaf gegaan”.
Volgens hom kan die pompe nie die werk doen nie, en die riool loop glo daagliks in ‘n gronddam in – “dit is onwettig. Die kontaminasie van die grondwater is geweldig, want die riool syfer in die grond in. Boorgat-eienaars in die omgewing se water is vervuil.”
Maandag het inwoners, soos Marlene Uys, weer hul lot bekla op sosiale media: “Vandag ruik ons alweer die riool in C-Plek”.
Deon Freemantle het bygevoeg dat rou riool daagliks ook op die Blouvlag-strand naby die biblioteek gepomp word. Hy noem dat Apiesdraai die ander uitlaatplek is, en noem dat dit moontlik “‘n probleem kan raak met die nuwe ontwikkeling daar. Dit is ’n ramp in wording.”
André Swart raai die klaers aan om hul wykraadslid se hulp in te roep. “As hy sy werk doen, was die probleem lankal opgelos.”
Pretorius sê egter hy is self op die komitee vir Wyk 11, en die saak presenteer elke keer op die agenda, maar “niks gebeur nie”.
Pretorius sê: “Die betrokke owerheid was so ’n jaar gelede op ons vergadering met groot beloftes van die dam met plastiek uitvoer, maar daarvan het niks gekom nie.
“Inwoners word aangetas met allergie wanneer die vuilwater se vlak opstoot, om nie eers van die kinders in die skool reg langs die pompstasie te praat nie.”
Hy noem dat hy en ander ’n afspraak met die munisipale bestuurder gaan maak om die vuilspul nou opgelos te kry.
Geen kommentaar kon teen druktyd van die Kouga-munisipaliteit verkry word nie.