So dikwels oordeel ons mense na aanleiding van hulle voorkoms. Ons trek maklik neus op vir iemand met tatoëermerke, lang hare of ongewone klere. Maar onder daardie uiterlike skuil dikwels intellek en kreatiwiteit. Dié les het ek weer geleer tydens ’n toer na Namakwaland.

Ons het die kusdorpie Port Nolloth aangedoen. Dit was byna verswelg deur die mistigheid. Maar alle paaie hier lei na die legendariese oud-diamantduiker, George Moyses. Hy het ’n gedeelte van sy beknopte blyplek, niks groter as ’n motorhuis nie, ingerig as ’n museum.

Hy is lank – effens krom, gehekelde mus oor sy slierte en het verslete kakikleurige klere aan. Deur die gate in die Crocs sien mens sy skurwe voete – nes sy growwe hande. Sy helder blou oë plooi saam met die sonkreukels op sy gesig en nooi ons hartlik in. So tussen die sowat drie enkel tande deur, borrel seestories.

Die muwwe plek getuig van jare se ondervinding as ’n seerot. Vir 48 jaar kon hy jaarliks sy mediese ondersoek slaag om te kan duik, vertel hy trots. Maar nou, al verby die 70ste verjaarsdag, het hy besluit om sy asemhalingsappaat op te hang. Teen die een muur hang sy formele vloot uniform – nog uit die dae toe hy in die SA Vloot in Simonstad opgelei is as duiker.

Die mure in sy One Time museum is oorvol met aandenkings, potjies, klippe, skulpe, gebeentes, getytabelle, lanterns, boeke, knipsels en wat nog als. Daar is skaars plek om te staan. Plakkate het hy self met die hand gemaak en daarop ge-skryf. Dis eintlik ’n georganiseerde chaos hier binne.

Maar dis beslis ’n lewende museum. George Moyses ís die museum. Sy stories van noue ontkomings, duikmaats wat nooit weer na bo gekom het nie, die daag-likse hoop op daardie kosbare blinkes – dis wat die museum lewe gee.

George het vele talente. Hy het al video- material van die duikery aan internasio-nale media verkoop, en hy neem graag foto’s. Hy maak ook artikels van vondse uit die see om te verkoop, en skryf graag.

Hy vertel self hy was ’n aantreklike jongman op sy dae. ’n Boot se skroeflem het hom ’n lelike merk oor die neus gegee. Hy en sy eks-vrou, Debbie, met wie hy op goeie voet is, het drie dogters. Almal woon daar op die dorp. Hy het al in verskeie publikasies en uitsendings verskyn. Ek wil weet wat maak hom gelukkig.

“Ek was soveel jare weg van my gesin, op see. Om hulle nou almal elke dag te kan sien, is die grootste geluk. Die welsprekende, eksentrieke diamantduiker vertel dat hy uit ’n akademiese familie kom. Hoewel hy self ’n BA graad met aardrykskunde en gekiedenis aangepak het, het die see in sy are gebruis.

Hy het jare gelede vir hom ’n informele huisie op die hoogwatermerk by Mcdougallsbaai opgerig, maar die see het dit meegesleur. Dié dat hy nou op Port Nolloth bly. Die dorpsmense ken hom, groet hom gulhartig.

Ek sit langs hom, met my arm om sy ou, vaal jas. Ek help sy arm om my skouer. “Dis is ’n eerste,” sê hy met ’n blinkerigheid in sy oë.

You need to be Logged In to leave a comment.