LEMOENE en stilte . . .
As jou hart verlang na stilte en ’n wegkomkans van die dorp se lawaai, is DeMist Cottages in Patensie beslis ’n besoek werd.
Híér, tussen die koppies van die Kouga-berge en groen klowe van die Gamtoosvallei, kan jy weer die stilte in jou kop terugkry en die spanning uit jou skouers laat gly. Al wat jy veronderstel is om hier te doen, is rus met ’n hoofletter R . . . en lekker eet – veral aan die boepens le-moene wat kordaat aan die bome hang.
DeMist Cottages
Op die Saterdagmiddag van ons kuier by DeMist Cottages, geleë op ’n werkende sitrusplaas, kom eienaar Jansie Both aangestap om te groet. Denim en T-hemp vol verfspatsels . . . hier word gewerk. Baie hard. Van boer tot huis uitverf.
Agter haar verlig die middagson die Kouga-berge soos ’n blinkge- poetse juweel. Geen grys wolk met die belofte van broodnodige reën is in sig nie. Die Patensie-boere bid elke Vrydagoggend vir reën.
Ek vra Jansie uit oor die plaas – daar is twee ten volle toegeruste kothuise en ’n “off-the-grid” kampeerterrein langs die rivier. ’n Nuutjie is die twee houthuise by die rivieroewer – ook “off-the-grid”.
Jansie glimlag: “Ons kampeerterrein is veral gewild. Die volop vis mag dalk iets daarmee te doen hê.”
Visstokke, aas en kundigheid word uitverhuur.
Ons vra uit oor die groot rots in die helder-oranje badkamer by Old Bearie – ons selfsorg-kothuis vir die naweek.
“Dit was omtrent ’n gespartel om die rots – wat ek opsluit moes hê – van die river tot binne die kothuis te kry,” sê Jansie. “Na ure se ge-stoot-en-trek kon ses van ons uiteindelik die rots tot binne in die badkamer kry. Hiervandaan gaan hy nie gou weer geskuif word nie.”
Die knus kothuis, wat gemaklik tot agt gaste kan huisves, het ’n asemrowende uitsig oor die le-moenboorde en ’n kaggel waar ons kan ontspan. Daar is ’n oopplan-kombuis en leefarea. Minder as twee meter van die kombuisdeur af is ’n groot lapa.
Prentjiemooi
En die unieke kunswerke wat die leiklip-vloer by die selfgemaakte-lapa versier?
“Dit is die handewerk van my kunstenaar-suster Elbie Potgieter wat op ’n nabygeleë plaas met groente boer.
“Van die skilderye in die kothuis is ook haar werk, en die ‘prentjie’ op die badkamervenster.”
Jansie vertel die “heilige” klippe kom van die Quagga Kerk-dak wat vyf jaar terug ’n nuwe baadjie gekry het.
“Die klippe het net daar gelê waar almal oor dit kon ry. Ons het dit stuk-stuk na die plaas aangery.”
Sy los ons alleen om te ontspan.
Stap
Na ’n vinnige koppie koffie, gaan stap ons deur die boorde waar die lemoene boepens aan die rye en rye bome hang – die bestes reeds vir die nasionale en internasionale mark gepluk.
Ons stap verby die knap kanaalstelsel, wat in 1967 deur ingeneurs en boere aangelê is om water uit die Kougadam te trek. dit is kurkdroog. Die stelsel word deur die Gamtoos Besproeiingsraad bestuur en elke jaar in Junie word die kanale vir instandhoudingswerk toegemaak – die “droë periode”.
Hier en daar lê ou plaas-implemente.
Die uitsig oor die vallei is verruklik.
Met elke tree voel jy hoe die vars lug en oop ruimtes die stadsgewoel uit jou gemoed wegtoor: hemel op Hankey.
By die kothuis
Terug by die kothuis: voëltjies wip parmantig op die klippe rond, en ons vuurtjie knetter vir tjoppies en braaibroodjies.
Die indrukwekkende tafel by die lapa het ’n storie van sy eie.
Jansie vertel: “Tafel gekoop, en wat nou? Nie een van die openinge is groot genoeg vir die tafel om deur te pas nie.”
Maar ’n boer maak ’n plan: soek die grootste opening (want nie een is dieselfde grote nie), skroef ’n paar dele van die tafel af – probleem opgelos.
Ons naweek word een van rus.
Die Sondagoggend drink ons vir oulaas koffie voor ons kothuis . . . dan is dit tyd vir huiswaarts keer.
DeMist Cottages gaan in jou hart kruip. Dit is ’n plek van klein plesiere: om die vuur sit, in die boorde stap, visvang . . . en ontspan.
Meer inligting
DeMist Cottages is op ’n werkende sitrusplaas in die Mistkraal-streek aan die buitewyke van Patensie geleë – net 30 minute se ry van Jeffreysbaai en ’n uur van Port Elizabeth af.
Besoekers kan òf in een van die twee ten volle toegeruste kothuise – Old Bearie en Old Pollie – oorslaap, òf hul tent of karavaan bring.
Besoek www.patensie2baviaans.co.za of gaan loer by DeMist Cottages op Facebook vir meer inligting.
Bespreking en navrae by 076 834 0760, of stuur ’n epos na info@patensie2baviaans.co.za.
Vind stilte en die rustigheid van die natuur